gisterwinter: Susanne Pike gee nuwe vlerke aan Afrikaanse poësie

Gisterwinter
deur Susanne Pike

Genre: Poësie
Bestellings: Minimal Press
E-bundel: Amazon

Sonder jou gister kan jy nie jou unieke vandag wees nie. Elke gister het ook immers sy eie winter. Ervaringe, belewenisse en geheimenisse, wat soos winter, jou tot standbeeld vries om te besin oor jou menswees en hoekom jy op hierdie aarde is.

Susanne Pike is op Groblersdal, Mpumalanga, gebore. Haar skoolopleiding het sy onderskeidelik by Juniorskool Willem Grobler, Laerskool Julian Muller en Hoërskool Ben Viljoen ondergaan. Sy het in 1980 gematrikuleer. In 1984 ontvang sy haar BA(ed)-graad, met Afrikaans en Bybelkunde as hoofvakke.

Op hoërskool het sy 'n tweedeplek in 'n nasionale opstelwedstryd verower. Eers in 2015 begin sy om ernstig verse te skryf. Haar eerste bundel, Inkspoor, 'n selfpublikasie, verskyn en verkoop vinnig uit. Sy is in 2019 en 2020 as een van die top-20 finaliste in die baie gewilde Ingrid Jonker: L'Art Poétique-digkompetisie aangewys. Sy is tans 'n onderwyseres by Pretoria High School for Girls.

Kreatio gee ons lesers 'n dieper kykie in Susanne se lewe en haar skryfproses ...

Hoe ontwikkel jou gedigte? (Lei ons deur die fases van jou skryfproses.)

My hele lewe lank is ek 'n dromer – dagdromer en nágdromer. Ek droom elke liewe nag – soms ook in volkleur! Grepe uit daaglikse gebeure, besielende foto's of tonele dien gewoonlik as sneller vir my skryfwerk. 

Soms in die stort, soms as ek my hare droogblaas of as ek sommer net na my digborrel ontsnap, verskyn woorde en reëls soos spoke aan my. As ek dit nie dadelik neerskryf nie, verdwyn dit – poef! – weg!

Wanneer ek motor bestuur en woorde begin in my kop nesskrop, herhaal ek dit oor en oor totdat ek dit kan neerskryf. Toe ek myself nog geforseer het om 'n vers dieselfde dag te voltooi, sou ek daaraan werk tot in die klein ure van die nag. Ek is inderdaad ''woordbesete'' en geheel en al obsessief met skryf en in die besonder, poësie.

Ek sal worstel met woorde totdat dit 'n gemaklike lêplek vind. Heel dikwels word 'n onbeplande vers gebore wat sy eie loop neem nadat ek daaraan getimmer en geskaaf het.

Ek griffel met enige skryfding op elke moontlike stukkie papier –selfs kasregisterstrokies! Ek tik dit gewoonlik daarna op my selfoon en deel dit met my vriende en familie op sosiale media.
Ek sal nie sommer gaan sit en 'n vers doelbewus uitdink nie, dit klink na gans te veel werk! (Ek veronderstel ek sal beter verse skryf as ek dit sou doen.)

Ek sê altyd: ''Woorde gebeur met my – ek drentel net agterna.''

Hoe hanteer jy die balans tussen jou daaglikse verantwoordelikhede en jou skryfwerk?

Terwyl ek my beroep beoefen (onderwys), moet ek op 'n duisend take gelyk fokus. Verse skryf is ongelukkig nie een daarvan nie hoewel ek sommer baie daarvan sou hou om heeldag op 'n stoep te sit en na die see te staar, wyn te drink en net te skryf – ek dink hierdie luukse is vir min mense beskore. (Ek moet bieg, as ek in die eksamentyd toesig hou, word vele verse bevrug!)

Ek skryf egter die meeste van my verse as ek veronderstel is om te ontspan. Dalk eendag ... sal ek voltyds kan skryf.

Wie is jou gunstelingdigters?

Ou gunstelinge – Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Breyten Breytenbach, Lina Spies, Antjie Krog, Joan Hambridge, Jeanne Goosen, Diana Ferrus. Nuwer gunstelinge – Gert Vlok Nel, Danie Marais, Giselse Ullyat en baie ander. Ek geniet dit om verse van digters te ontdek wat voorheen aan my onbekend was.

Waar kom jou idees vir jou gedigte vandaan? Doen jy baie navorsing oor poësie?

Ek het Afrikaans aan UP studeer en weet darem wat die basiese boustene van poësie behels. Die res laat ek aan die natuur oor. Ek behoort seker deegliker navorsing te doen om my as digter beter toe te rus. Ek sien myself nie as 'n ''akademiese digter'' nie, maar eerder net as 'n ''woordverslaafde''.

Ander digters se verse inspireer my, maar die meeste van my verse groei oornag soos sampioene in my brein.

As jy vir 'n jonger/voornemende digter iets kan vertel, wat sal dit wees?

Lees. Lees. Lees. Skryf. Skryf. Skryf. Moenie jou werk met ander s'n vergelyk nie – soek jou eie, unieke stem. Moenie kritiek op jou werk persoonlik opneem nie, gebruik dit om beter te skryf. En moenie opgee nie.

Wanneer het jy geleer dat daar krag in 'n taal is?

Toe ek in graad een vir die eerste keer 'n vloekwoord in die klas gesê het.

Steek jy geheime in jou poësie weg wat slegs 'n paar mense sal vind?

Uhmm ... nee. Ek skryf heeltemal te eerlik en te eenvoudig daarvoor. Die oomblik dat ek 'n vers die wêreld instuur, word dit 'n geskenk aan die lesers om daarmee te doen wat hulle wil. Daar is natuurlik verse wat baie persoonlik is waarin ek my diepste emosies ontbloot, maar ek het gevind dat dit ook helend is.

Hoe lyk literêre sukses vir jou?

Wat is literêre sukses? Gemeet aan boekverkope? Dan is Deon Meyer seker 'n literêre sukses. 

Wil jy hê dat elke boek op sy eie moet staan, of probeer jy om 'n liggaam van skryfwerk op te bou met verbindings tussen elke boek?

Ek sou hoop elke boek is 'n unieke kind met haar eie persoonlikheid, nukke en grille.

Google jy soms jouself? 

Haa haa! Natuurlik het ek myself al ge-google. Daar is 'n klomp slim dokters oorsee met die naam van Susanne Pike.

Resensie: gisterwinter
Resensent: Francois Meyer (Kreatio)

Susanne Pike se gisterwinter, die opvolg van haar selfpublikasie Inkspoor (2015), het in Julie 2020 die lig gesien. Susanne is veral bekend vir haar sjarmante omgang met alliterasie en assonansie, en gisterwinter stel beslis nie teleur nie.

dalk is dit tolbosse oor stoppellande
wat jou ambivalensie oor die eksistensie
van hemel en hel laat dool
dalk is dit die laaste landskap
wat subliem
jou vrese deurpriem
en jou wese vaspool


Uit: laissez faire (bl. 18)

Poësie is aan die verander. Dit is nie net gesproke woorde en Instagram-digters wat dit verander nie; eindelik kry verskillende stemme en ervarings 'n goeie gehoor. Susanne demp nie vir een oomblik haar kreatiwiteit in gisterwinter nie. Die digter behou haar egtheid in haar omgang met Afrikaans en die verskeie elemente van poësie; daarom is die verhoog ingestel vir 'n gehoor van poësieliefhebbers uit alle oorde.  

ek kán net nie soos ander
digters dink nie –
my gees-en-wees is net té skel;
té abstrakafwesig
van my eie woordbevel


Uit: om te dig, maar nie te dink nie (bl. 28)

Die eiesoortige, en eksperimentele, aanwending van enjambemente in die skedel breek oop (bl. 31) bewys dat sy nie huiwer om van haar handtekeningstyl weg te breek en nuwe roetes aan te durf nie. Sy reis verder op dié roete met die gedig ver#houding (bl. 38–39) – waarin die aanwending van dubbelsinnigheid en kontras 'n skeiding tussen die realiteit en fantasie in die 21ste eeu na vore bring. 

ek #
'n close-up van
die groen grasring
styf gestring
(skimpend) oor daai
linkervingerding
(soek jou op my contact-list
net om uit te vind
ons het lank reeds al
ons lag ontbind)
#unfriend
#hatelifehatelove


Uit: ver#houding (bl. 38–39)

Die digter skroom nie om lewensbelangrike aspekte soos geestesgesondheid en sosio-ekonomiese kwessies in gisterwinter aan te spreek nie. Die progressie en braafheid (in poësie én persoonlike groei) sedert Inkspoor is merkwaardig. Sommige lesers mag dalk Susanne se gedigte as riskant beskou, maar dit is juis die andersheid wat nuwe vlerke aan Afrikaanse poësie gee.