Loretta Szikra: Vlindereffek

Publikasie: Vlindereffek
Digter: Loretta Szikra
Genre: Poësie
Bestellings: Kreatio se boekwinkel

Loretta Szikra se tweede digbundel Vlindereffek plaas die kollig op haar veelsydigheid as digter. Vlindereffek is so 'n juiste titel vir dié versameling van gedigte. Soos die digter tereg in haar voorwoord skryf: "En so is daar 'n nadraai in alles wat ons doen. Elke woord, elke keuse en elke daad het 'n oorsaak en gevolg wat uiteindelik ook die pad en stand van ons lot bepaal, hetsy positief of negatief."

Die pad wat regdeur Vlindereffek met vrye vers en 'n groot variasie digvorme uitgelê is, is die nadraai van die groei wat sy as digter ondergaan het. Of dit 'n ballade, triolet, haikoe of villanelle is wat Loretta aanpak, skroom sy nie een oomblik om elke woord soos 'n legkaartstuk in 'n rigiede vorm suksesvol in te pas nie.

Vlindereffek is net so sjarmant soos wat dit parmantig is, en 'n vreemdsoortige – tog veelbelowende – balans word deurlopend tussen onderwerpe gehandhaaf. Elke mens se lewenspad bestaan uit die een vlindereffek ná die ander; daar mag dalk net 'n paar van jou eie tussen hierdie digbundel se bladsye fladder.

Hoe ontwikkel jou gedigte? (Lei ons deur die fases van jou skryfproses.)

Dinge gebeur om ons en vorm gedagtes wat 'n mens op een of ander manier stof tot nadenke gee, met tye los dit net 'n woord agter ... Daar is altyd woorde, gevoelens en klein rympies in my kop wat krap en karring. Soms sal dit vir weke lank net prut totdat dit my op 'n dag (gewoonlik in die middel van die nag) begin mal maak. Dan weet ek om dit op papier vas te vang. Meestal is dit net 'n sleutelwoord wat ek neerskryf. Later kom 'n vers deur wat my sleutelwoord bevat. Ek bou dan my gedig rondom dit. Dis moeilik om te beskryf hoe dit gebeur, want dit ontstaan spontaan sonder dwang. Ek besluit nooit vooraf waaroor ek vandag gaan skryf en wanneer ek 'n gedig wil skryf of klaarmaak nie, dit gebeur net. 

Hoe hanteer jy die balans tussen jou daaglikse verantwoordelikhede en jou skryfwerk?

Op die oomblik is daar geen balans nie. My daaglikse verantwoordelikhede het die oorhand. Daar gaan soms maande verby wat ek byna geen aandag aan my skryfwerk skenk nie, totdat ek weer 'n bevlieging kry en doen wat my binneste vir my vra. 

Wie is jou gunstelingdigters?

Ek kan nie 'n spesifieke digter uitsonder nie. Daar is soveel nuwe en ou digters waarvan baie al op sy of haar eie manier aan my hartsnare geraak het. As ek vinnig 'n antwoord moet gee, is Antjie Krog een van die eerste name wat by my opkom.

Waar kom jou idees vir jou gedigte vandaan? Doen jy baie navorsing oor poësie?

Meestal spruit my idees uit my eie lewensondervindinge en gevoelens wat daarmee gepaardgaan, hetsy positief of negatief. Die persepsie wat ek uit ander se lief en leed kry, dra ook 'n baie groot deel by tot my skryfwerk. Die natuur speel ook 'n baie groot rol in my inspirasie. Ja, ek doen baie navorsing – veral as ek oor 'n spesifieke onderwerp, byvoorbeeld wanneer ek oor mitologie of geskiedenis wil skryf. Ek hou daarvan dat my feite so akkuraat moontlik moet wees.

As jy vir 'n jonger/voornemende digter iets kan vertel, wat sal dit wees?

Wees uniek. Moenie die skare najaag nie. Laat jou hart jou woorde lei en jou pen se pasaangeër wees. Moenie vir 'n nismark skryf nie – jy skryf vir jouself. Skilder jou prentjie soos wat dit vir jou mooi is en moet jouself nie bekommer oor wat ander daarvan dink nie. Iewers in die wêreld is daar iemand wat daarmee kan identifiseer. 

Wanneer het jy geleer dat daar krag in 'n taal is?

Vir my was daar nog altyd krag in taal en woorde. Ek is boekmal vandat ek kan onthou. Die besef het werklik tot my deurgedring toe ek self 'n belangstelling in poësie ontwikkel het en besef het hoe sterk die krag van woorde is, veral as jy begin kennis neem van wat eintlik tussen die lyne gebeur.

Steek jy geheime in jou poësie weg wat slegs 'n paar mense sal vind?

Beslis ja! Is dit nie wat alle digters eintlik doen nie?

Hoe lyk literêre sukses vir jou?

Om werk te kan skep wat 'n verskil maak aan elkeen wat dit nodig het. Ek wil aan mense se harte raak; of dit is om 'n skuldgevoel by 'n vroueslaner te kweek of om 'n weeskind hoop op 'n blink toekoms te gee. Werk wat kinders in skole nog leer lank nadat ek my kop neergelê het. En bowenal, om dalk eendag 'n Ingrid Jonkerprys of SALA toekenning te verwerf.

Wil jy hê dat elke boek op sy eie moet staan, of probeer jy om 'n liggaam van skryfwerk op te bou met verbindings tussen elke boek?

Ek glo dat elke boek op eie meriete en eie reg moet staan alhoewel daar tog 'n mate van verbinding moet wees – 'n kenmerk eie aan my styl, en wat ek as skrywer probeer vermag.