Volsirkel: Amanda de Meillon skep 'n woordekonomiese atmosfeer

Publikasie: Volsirkel
Digter: Amanda de Meillon
Genre: Poësie
Bestellings: Kreatio se boekwinkel
Resensent: Francois Meyer (Kreatio)

Amanda de Meillon se tweede bundel Volsirkel sien die lig in September 2020. Haar eerste bundel Seisoene het in 2018 verskyn. Sy het onlangs 'n tweede plek in Kreatio en Groep 7 Drukkers se 2020-poësiekompetisie verower met die gedig Aborte Vendicta wat ook in Volsirkel opgeneem is.

Die titel, Volsirkel, suggereer 'n kringloop van die dele van haar lewe wat voltooi is, en vind ook 'n onkreukbare plek in die inhoud. Die inhoud varieer van 'n outobiografiese konteks tot wonderlike kinderpret. Wanneer die digter buite die diggebeure staan, word triomfantelike tonele in beeldspraak weergegee, so word personifikasie en sinestesie doeltreffend aangewend in die gedig Distrik 6 (bl. 3):

... terwyl sirenes vergeefs
om lewens veg
haar moederskoot
word met lanfer gevlek
en meng sy laaste asem
met die reuk van geweld

Die gedig Lied van my hart (bl. 19) is 'n gedig waarin beeldspraak en beelde van die natuur aangewend word om sterk emosie na vore te bring – sonder om stroperig te raak. Die gedig word nie net gelees nie, maar word gevoel en visueel waargeneem:

Saggies huil die winterwind
in a capella met my saam
'n hartseerlied van heimwee
wat net ek sal verstaan
sy sagte simfonie van sorge
wat oral met my gaan
die winterwind se treuring
eggo my hart se bitter traan

Die digter wik en weeg nie om digterlike vryheid en kreatiwiteit – binne die perke van taalbegrip – te handhaaf nie. Die tipografie van Tyd (bl. 23), die stylvolle sensualiteit van Verbode passie (bl. 51) en die openhartige verklaring met betrekking tot die rare realiteit in Auschwitz (bl. 60) getuig van die digter se vernuftigheid. Die bundel sluit af met 'n sprankie Engelse gedigte wat die volsirkel van Amanda se veelsydigheid voltooi.

Die omgang met woordekonomie in Volsirkel en keurige woord- en taalgebruik skep 'n atmosfeer wat enige leser verwelkom. As hierdie bundel 'n uitnodiging was, dan beveel ek ten sterkste aan dat elke poësieliefhebber die uitnodiging aanvaar.

Kreatio het met Amanda oor poësie en haar skryfproses gesels. Lees gerus die onderhoud hier.

Hoe ontwikkel jou gedigte? (Lei ons deur die fases van jou skryfproses.)

‘n Woord, gedagte of insident sit die bal aan die rol. Ek sal in die middel van die nag wakker skrik en kort stukkies neerpen (daar is altyd pen en papier langs my bed), of sommer terwyl ons ry 'n paar woorde neeskryf. Dan vorm ek die liggaam om hierdie woorde (amper soos God vir Eva om Adam se rib gevorm het). Ek skaaf en skuif en polleer. Soms vra ek 'n paar vriendinne om deur te lees en dan kibbel ons oor veranderinge. In die verlede sou ek geskryf het en basta met ander se mening. Nou het ek geleer dat jy deur ander te vra, jy meer volwassenheid aan jou digwerk gee.

Hoe hanteer jy die balans tussen jou daaglikse verantwoordelikhede en jou skryfwerk?

Ek is een van die gelukkiges wat 'n wonderlike baas het. Ons ooreenkoms is dat wanneer my kantoorwerk op datum is, ek al my tyd aan my skryfwerk kan spandeer. Charles is weer my nommer een ondersteuner tuis. Hy por my aan om te skryf en gryp self die waspoeier en besem sodat ek kan dig of skryf. Daar is altyd pen en papier naby my; wanneer woorde om asem skreeu moet jy jou pen gryp en skryf anders verdwaal hulle in die spinnerakke van my ouer wordende brein. My daaglikse verantwoordelikhede is soms my grootste inspirasie, en word stories en gedigte gebore uit dit waarmee ek besig is – die twee vul mekaar aan. 

Wie is jou gunstelingdigters?

Al ons ou, ou digters/skrywers waarvan Boerneef uitstaan. Sy humoristiese prosa en sy digkuns het van jongs af 'n indruk gemaak. Onder die nuwe skrywers – Marieta McGrath, haar veelsydigheid is uitsonderlik. Sy is ook nie beperk tot een skryfstyl nie en kan 'n wonderwerk optower in enige opdrag. Anzé Bezuidenhout se digkuns is baie diep. Wanneer jy tussen die lyne lees besef jy watter goudmyn in hierdie vrou se woorde lê. Sy is my grootste inspirasie, ‘n voorbeeld van aanhou, uithou en voortbou.

Waar kom jou idees vir jou gedigte vandaan? Doen jy baie navorsing oor poësie?

Poësie moet uit die hart kom. Geforseerde skryfwerk is nooit ‘n sukses nie. Dit makeer daardie stukkie passie wat so nodig is met digkuns. Ek behoort aan 'n paar groepe op die Gesiggieblad en daar word weekliks opdragte uitgedeel. Ek is ook deel van Ink skryf in Afrikaans en die maandelikse opdragte spoor my aan om in my skryfwerk te groei. Maar wanneer ‘n opdrag nie met my praat nie, sukkel ek om woorde neer te pen. Alledaagse gebeure rondom my, die natuur, my familie, 'n snaakse voorval by die werk, dit alles ontgin die woordmyn in my kop. Ek spot altyd dat mense versigtig moet wees wanneer ek naby is; hulle word gou die nuwe karikatuur in my skryfwerk.

Navorsing oor Poësie is nodig. Ek vergelyk my eerste werke met dit wat nou uit my pen vloei en ek kan self 'n groot verskil sien. Jy moet jou kennis in verband met strukture, ritme, rym ensovoorts verbreed. Daar is 'n groot verskil tussen rymelary en digkuns. Mens moet ook baie versigtig wees dat ander se digkuns nie jou eie werk beïnvloed nie. Dit is so maklik om onskuldig iemand anders se woorde te leen omdat dit in jou onderbewussyn vasgesteek het. Tog behoort woorde aan ons almal en moet ons nie oorsensitief na ander se werk kyk nie.

As jy vir 'n jonger/voornemende digter iets kan vertel, wat sal dit wees?

Negatiewe kritiek is ook opbouende kritiek. Moenie jou stert wip wanneer iemand jou tereg wys nie. Heelwat van my goeie werke het as tiener in die snippermandjie beland omdat ek my vererg het vir ander se opinies. Gebruik dit as ‘n leerskool om jou werk te verbeter. Onthou, smaak verskil. Ons kan nie almal saamstem oor 'n sosatie nie. Party verkies hoender en ander rooivleis. Vra, vra, vra ... skryf uit jou hart uit en vra dan raad daaroor. Slyp en skaaf daardie skoen tot hy pas.

Wanneer het jy geleer dat daar krag in 'n taal is?

Toe my eerste vloekwoord my agterstewe vir dae laat brand het, hahaha. Ek het al in graad een my eerste rympies aanmekaar begin flans. Ek was sewe jaar oud toe ek vir 'n Simba-kompetisie 'n gediggie geskryf het en as beloning 'n pen met 'n Simba-mannetjie in, gewen het. Dit was die begin van 'n onblusbare passie. Ek kon boodskappe oordra in die geskrewe woord en erkenning ontvang daarvoor. Later jare kon ek my gevoelens in my woorde versteek en het my digkuns my gehelp om te oorleef in 'n wêreld van seer. 

Steek jy geheime in jou poësie weg wat slegs 'n paar mense sal vind?

Definitief. Verskuilde boodskappe word in meeste van my werk gevind. Ek sal nooit iemand direk aanspreek nie, maar wel my mening oor 'n sekere situasie in 'n gedig weergee. Hopelik lees die persoon of persone op wie dit gemik is wel die boodskap tussen die lyne raak. Digkuns is 'n uitlaatklep vir opgekropte gevoelens. 

Hoe lyk literêre sukses vir jou?

Kyk jy na skrywers soos Dalene Matthee en Marita van der Vyver (Griet skryf 'n sprokie, 1992), wie se werke feitlik direk na publikasie ongekende gewildheid geniet het, kan jy dalk argumenteer dat dit die toonbeeld van literêre sukses is. Vir my lê literêre sukses in wat jy met jou skryfwerk vermag. Elkeen van ons is anders. Ons almal kan nie 'n Helene de Kock of 'n Antjie Krog wees nie. Wanneer jy jou heel beste gee, wees dankbaar vir die sukses wat jy wel behaal. 'n Leer het baie sportjies, ons kan nie almal op dieselfde sportjie staan nie.

Wil jy hê dat elke boek op sy eie moet staan, of probeer jy om 'n liggaam van skryfwerk op te bou met verbindings tussen elke boek?

Miskien met my stories. Ek het 'n goudpot van ervaringe wat in my hartskamer opgesluit lê. Elke boek sal wel met die vorige een verbind, maar my digkuns staan alleen. Ek dink wel dat jou skryfwerk op 'n manier soos ‘n wingerdstok is wat loot skiet. Die ou dele is gehard en stokkerig terwyl die nuwe lote vars en vol lewe is. Die nuwe lote het egter die ou stok nodig om te oorleef – soet vrugte wat hier en daar 'n suur korrel bevat. Uit daardie wingerd kom vars druiwe, rosyntjies en wyn, 'n verskeidenheid van keuses uit een stok.