Bioskoop van my hart

Wanneer die gordyne opgelig word, is alles wat die leser sien, voel en hoor die bioskoop van twee digters se harte. Welkom by Charné Harding en Chris Jansen se poësievertoning. Charné  en Chris se digbundel Bioskoop van my hart het in Julie 2021 die lig gesien. Kreatio gesels met dié twee digters oor poësie en hulle skryfproses. 


Bioskoop van my hart is nou beskikbaar teen R130 per bundel (versending uitgesluit) en kan via e-pos by Charné (charneharding@gmail.com) of Chris (chris53jansen@gmail.com) bestel word. 

Ontmoet die digters

Charné Harding

Charné Harding

Agtergrond Charné is baie lief vir enige vorm van kuns, hetsy woorde, skilder of musiek. Sy kan nie 'n dag gaan sonder om te lees nie en boeke is haar rykdom. Sy dig om haar gevoelens te verwoord en sien dit as 'n gawe van haar Abba Vader; Hy weet dit maak haar gees gesond. Sy geniet haar twee kinders en haar man is haar grootste ondersteuner.

Hoe ontwikkel jou gedigte? Dit kom nooit spontaan nie. Ek sal ’n spesifieke gevoel met my saamdra of iets hoor en dan begin ek aan ’n gedig werk. Dit neem ook dae voordat ek tevrede is. Ek kan glad nie voorgesê word om in ʼn bepaalde tyd klaar te wees nie; die woorde moet eers broei voordat dit op papier weergegee word.

Oor balans tussen skryfwerk en die lewe: Ek moet rustig wees wanneer ek skryf, en daarom probeer ek skryf wanneer ek by die huis is. Dit is moeilik om voltyds te werk en te skryf, maar ek sien skryf ook as 'n manier van ontspanning.

Wie is jou gunstelingdigters? Ingrid Jonker en C. Louis Leipoldt

Waar kom jou idees vir gedigte vandaan? Al my gedigte kom uit persoonlike ervarings en alledaagse dinge. Navorsing oor poësie en om altyd iets nuut te leer is vir my belangrik.

Hoe het jy besef dat taal kragtig is? As kind het boeke my vriend geword en dit het my laat voel dat ek iewers behoort en dit het my ook ’n mate van selfvertroue gegee. Lees verskaf kennis wat nooit weggeneem kan word nie.

Versteek jy geheime in jou poësie? Definitief, daar is in byna elke gedig 'n persoonlike ervaring en onthougebeure versteek wat deel van my is.

Hoe lyk literêre sukses vir jou? Om my eie uniekheid te behou en respek vir ander digters te hê.

Chris Jansen

Chris Jansen

Agtergrond Chris Jansen (gebore Christiaan Adriaan Jansen op 6 Augustus 1960) is 'n vurige Sharks-ondersteuner. Hy geniet dit om te stap en met woorde speel. Hy is 'n romantikus in murg en been en passievol oor alles wat hy aanpak; veral om oor die liefde te skryf, want sonder liefde is ons niks.

Hoe ontwikkel jou gedigte? Gedigte is my manier van speel met woorde om emosies op papier vas te lê. Ek skryf nie oor ’n spesifieke onderwerp nie; dit wat ek skryf is spontaan en vloei uit my hart.

Oor balans tussen skryfwerk en die lewe: Skryfwerk is soos asemhaal – ek benut elke geleentheid wat ek kry om te skryf. Selfs wanneer ek stap of draf en ’n idee in my gedagtes gebore word, maak ek aantekeninge, hetsy op my selfoon of pen en papier.

Wie is jou gunstelingdigters? Ernest Loth en C. Louis Leipoldt

Waar kom jou idees vir gedigte vandaan? Dit is my persoonlike gevoelens en ervarings. Ek lees wyd om meer oor poësie te leer.

Hoe het jy besef dat taal kragtig is? Lees was nog altyd vir my ’n ontvlugting, en op my gryse ouderdom het ek eers besef ek kan dit gebruik vir my eie ontvlugting en verbeeldingsreise.

Versteek jy geheime in jou poësie? Baie beslis! Persoonlike ervarings en drome word in my gedigte versteek.

Hoe lyk literêre sukses vir jou? Solank die lesers net my werk geniet.