Edward Smit: Die Naakte Waarheid

Edward Smit se debuutboek, Die Naakte Waarheid, is 'n handige handleiding om lesers hul lewens te laat ondersoek en te ontdek wat hulle onsekerhede veroorsaak, wat hulle gelukkig maak en die doel van hul lewens na te streef.


Die boek moedig lesers – wat die akkuraatheid van die gewone suksesformules begin betwyfel – aan; die wat hoop dat daar meer in die lewe is as onsekerheid en bekommernisse.


Hierdie boek wys vir hulle dat dit moontlik is om vreugde te vind terwyl hulle besig is om doelwitte te bereik, en ook die reis langs die pad kan geniet. Die skrywer laat lesers nadink oor wat hulle van hul lewens wil hê en wat dit beteken om daagliks vergenoegd te wees.


Buiten geestelike inspirasie verskaf Die Naakte Waarheid ook kosbare lewenslesse wat lesers sal motiveer en inspireer om positiwiteit te omhels. Die skrywer se vertelling is eenvoudig, netjies en helder en dit maak dit maklik vir lesers om met die inhoud te resoneer. Edward se eerlikheid en egtheid, terwyl hy oor sy persoonlike ervarings praat, is verfrissend en maak hierdie boek 'n wenner. 

Hoe het Die Naakte Waarheid ontstaan?

Die Naakte Waarheid vind sy oorsprong in my eie seer nadat ek in 2014 in 'n vernietigende hofsaak betrokke was en dit my loopbaan as onderwyser 'n knou gegee het. As gevolg van die sielkundige impak van die hofsaak en astronomiese regskostes beland ek dieselfde jaar in 'n Bloemfonteinse hospitaal weens depressie, angsversteurings en selfdoodneigings. Tydens my sessies met twee sielkundiges het beide die aanbeveling gemaak dat ek skryf as uitlaatklep moet gebruik om myself tot die pad van genesing te lei.


Voor hierdie hofsaak het ek reeds as vryskutjoernalis opgetree vir Media24 en verskeie kleiner gemeenskapskoerante in ons dorp, maar nooit werklik gefokus op die skryf van dit wat binne myself opkom nie.


Tussen 2014 tot Mei 2018 was ek ook werkloos en moedeloos omdat geen skool my wou aanstel as onderwyser nie al was my appèlaansoek na die hooggeregshof geslaagd. Die onderwysdepartement het my personeelnommer geblok om my uit die sisteem te hou terwyl ander onderwysers se gruwels toegesmeer is.


Dit was tydens hierdie tydperk, spesifiek vanaf 2016, wat ek begin skryf het en my stukke vir verskeie koerante dwarsoor Suid-Afrika aangebied het ten einde 'n brood vir my kinders te kon koop.


Redakteurs het my gereeld gevra om nog stukke aan te bied en soms is die lesers se kommentaar op my stukke aangestuur. Hoekom skryf jy nie 'n boek nie, was 'n vraag wat menige gevra het nadat hulle my gepubliseerde stukke in verskeie koerante gelees het.


Die Naakte Waarheid is gebore en ek ontbloot myself in die verskillende hoofstukke in die boek. Gedurende my werklose jare (2014–2018) het ek ook vir meer as 200 poste aanlyn aansoek gedoen vir joernalistiekposte in Media24, en het ek vir 12 onderhoude gegaan, maar kon nooit 'n aanstelling kry nie. Dit het my gedryf en ek het op my skryfwerk begin fokus omdat dit my vir 'n oomblik laat vergeet van skoolfonds, ryding sonder petrol, R34 in my bankrekening, polisse wat verval het en selfs ons duur motor wat iemand anders oorgeneem het omdat ek dit nie meer kon bekostig het nie asook my kinders wat op die vloer moes slaap omdat baie van ons meubels verkoop of weggegee is.

Die Naakte Waarheid gee die leser 'n blik in my eie seer en swaarkry. Soos die leser deur die hoofstukke lees word hulle ook met hul eie vrese en tekortkominge gekonfronteer en kom dus figuurlik gesproke naak voor die waarheid te staan. Die stukke laat jou oor baie dinge nadink wat dien tot stof tot nadenke ... en jou weer stelselmatig aantrek.


Wat is die grootste boodskap wat jy vir die leser van dié publikasie wil gee?

Moet nooit opgee nie. Nooit, nooit, nooit nie. As jy 'n visie het, klou daaraan vas en glo dat die regte mense reeds gebore is wat jou sal help om geboorte te gee aan jou visie of droom in jou hart. Met hierdie boek het ek dit self ervaar.


Doen jy baie navorsing tydens jou skryfproses?

Ek lees uiteraard baie omdat ek 'n vryskutjoernalis is. Menige kere sien ek 'n sin of frase of reël of net 'n woord wat my tref soos ek lees. Ek skryf dit dan neer en gaan sit en top daaroor. Dan begin ek iets daaroor skryf en gaan doen veral navorsing oor ander mense se sienings, standpunt of opinie oor wat ek geskryf het.


As jy nie skryf nie, wat doen jy dan in jou vrye tyd?

Onderwysers het nie so iets soos vrye tyd nie. Min mense besef dat 'n onderwyser se werk begin nadat die laaste skoolklok gelui het.

Ek het 'n liefde vir fotografie en neem soms foto's. Ek het myself as fotograaf ook gevestig in die tyd wat ek werkloos was. Meeste van die tyd lees ek 'n boek. Ek geniet dit ook om in my groentetuin te wees om te sien hoe die tamaties begin vorm aanneem, en om die geur van nat grond te ruik. So af en toe sal ek aan my klavier vat om te kyk of my vingers nog iets kan regkry. Ek het in Februarie 2014 laas ernstig klavier gespeel toe ek ons skoolkoor afgerig het en ook orrelis was. Sedertdien is die klavier net 'n meubelstuk in ons huis.


Wat is jou gunstelingboek uit jou kinderdae?

Ons het op die plaas grootgeword. Boeke was 'n luuksheid weens die afwesigheid van 'n biblioteek. Skoolvakansies en naweke het ons op die plaas gaan werk of in die plaasdame gaan baljaar om net kind te wees. Ek kan nie 'n boek uit my kinderdae herroep nie. Later toe ek hoërskool toe is, het ek altyd die Club707-speurverhale gelees. Dit het my nogal geboei hoe 'n ingewikkelde saak deur 'n speurder opgelos word.


Wie is jou gunstelingskrywers?

Ek het nie juis 'n gunstelingskrywer nie, want as jy aan een skrywer se werk vasklou, gaan soveel ander se werke verlore vir jou. Ek geniet graag boeke wat my kop oopmaak en my siening van baie dinge in die lewe verander. Ek het nogal aanklank gevind by John C Maxwell se boeke oor leierskap.


Hoe lyk literêre sukses vir jou?

In Suid-Afrika sukkel skrywers om geld te maak ten einde 'n lewe te maak met hul skryfwerk. Sukses is 'n komplekse ding, want hoe meet jy sukses? Ek moet erken dat ek nooit besef het dat ek my skryfpogings in boekvorm sal publiseer nie. So in my kop is literêre sukses daardie nagte en dae se wakker wees om iets te skryf in jou eie wêreldjie. 'n Uitgewer wat die groter boodskap of potensiaal in jou skryfpogings raaksien, en jou deur daardie proses lei om jou poging as 'n boek te publiseer en mense wat bereid is om dit te koop.


Die hele skryfproses vanaf die eerste hoofstuk tot die laaste punt was egter vir my 'n groei- en leerproses so ook toe Kreatio aan my manuskrip begin skuur en skaaf het. As my kinders in hul volwasse jare Die Naakte Waarheid lees en tot dieper insigte kom oor hul eie lewens en uitdagings dan sal ek dit as literêre sukses beskou.


As jy vir 'n jonger/voornemende skrywer iets kan vertel, wat sal dit wees?

Begin net skryf. Die begin is gewoonlik die moeilikste. Glo dat iewers op hierdie aardbol iemand is wat bereid is om jou ''denke'' te koop. Alle beroemde skrywers het iewers begin – by die begin!


Ondersteun jou familie jou loopbaan as skrywer?

My vrou kom kry my met boeke as onderwysstudent in die laat 90's. Later as 'n regstudent besig met my LLB aan UNISA met dik regshandboeke en vonnisbundels. Ek was gedurig besig met boeke of studeer of skoolwerk. Ons eetkamertafel is gedurig vol boeke en oral in die huis is boeke. Met verloop van tyd het sy maar aanvaar ek is altyd besig met skoolwerk, studeer en skryf. My vrou het my ruimte gegee om my stories te skryf as joernalis en funksies by te woon ten einde my berigte betyds vir my redakteurs aan te bied. Tussendeur het ek ook aan Die Naakte Waarheid geskryf.


Na watter toekomstige publikasies uit jou pen kan lesers nog uitsien?

Ek het my eie digitale tydskrif waarin ek veral ware inspirasiestories van mense skryf. Ek gaan my 2020-stories in my tydskrif ook in boekformaat uitgee. Ek glo daar is 'n mark en dat die mense wie se stories ek gepen het graag 'n boek sal wil hê om te bewaar vir die volgende generasie.


Dan ... wil ek ook my 2014-hofsaak as 'n boek uitgee sodat onderwysers in Suid-Afrika kan lees wat met my gebeur het en hoe die departement die hele saak hanteer het om my te boelie. Hierdie boek kan my loopbaan as onderwyser verongeluk, maar ek is bereid om die kans te neem. Hulle het dit in elk geval verongeluk tydens my skorsing. 


Die Naakte Waarheid kan bestel word teen R150 (versending uitgesluit) by edwardhenry.smit@gmail.com.

Die publikasie is ook beskikbaar by GULA Skryfbehoeftes in Postmasburg.