Die nood roep

Logan Adams is op 18 September 2002 in die Paarl gebore. Sy het grootgeword in Amstelhof, Paarl. Sy het haar laerskoolloopbaan by Laerskool Paulus Joubert en haar hoërskoolloopbaan by Klein Nederburg Hoërskool (waar sy die hoofmeisie was) voltooi. 


Die boelie wat sy op skool deurgegaan het, het bygedra tot haar stryd met depressie en verskeie traumatiese ervarings. Sy het in 2020 begin gedigte skryf as gevolg van haar stryd met depressie. Dit was nog altyd haar droom om 'n skrywer te wees. Die titel van haar debuutbundel Die nood roep dui daarop dat sy in die nood was tydens een van die slegste tye in haar matriekjaar. "Ek skree basies vir hulp," verklap sy. 


Logan is 'n radio-omroeper by Radio KC en loop tans dramaklasse. Sy het ook haar eie produksie Maskers geskryf. Sy het hierdie digbundel geskryf om te verklaar dat depressie oorwin kan word met God aan jou kant.

In haar debuutbundel Die nood roep strewe Logan Adams na sinvolle gevolgtrekkings en aanvaarding in etlike fasette van die lewe.

Die digter gee gestalte aan haar outentieke uitgangspunte deur vrye vers in 'n moderne en paslike wyse aan te bied.

Van Ontsnapping (p. 25) tot fyn waarneming van die realiteit en die herontdekking van haar waarde as mens in 'n Opoffering (p. 43), bou die atmosfeer van Die nood roep talle kere op tot 'n crescendo van verstegniese aspekte.

Logan vra ook 'n bondel retoriese vrae aan ander digters in die gedig Digterskap (p. 52). Sonder aarseling leef sy háár antwoord in hierdie digbundel uit: ek skryf vir volkomendheid.

Hoe ontwikkel jou gedigte? 

My gedigte ontstaan wanneer ek in sekere situasies geplaas word waar ek hartseer gevoelens moet trotseer, en dan dig ek sodat ek beter kan voel. Dig en skryf word as terapeutiese middele beskou. Ek sal ook situasies in ons gemeenskappe sien en daaroor dig omdat ek voel dat daar gesprekke gevoer moet word oor die verkeerde dinge wat in ons samelewing gebeur.


Hoe hanteer jy die balans tussen jou daaglikse verantwoordelikhede en jou skryfwerk?
Gewoonlik handel ek eers my skryfwerk af omdat dit my passie is en ek dit vreeslik geniet, maar ek skryf meeste van die tyd gedigte in die aand omdat dit stiller is en ek meer tyd het om te dink waaroor ek wil skryf en hoe ek wil dig. Maar enige tyd in die dag as ek sleg voel, hardloop ek na my terapeutiese middel!

Wie is jou gunstelingdigters?
My gunstelinge is Ernest Loth, Ingrid Jonker, Adam Small en Antjie Krog. Ek hou veral van Ernest Loth se werk.

Waar kom jou idees vir jou gedigte vandaan? Doen jy baie navorsing oor poësie?
My idees vir my gedigte ontstaan uit hoe ek voel, en wat gebeur in ons samelewing. Ek doen selde navorsing oor poësie omdat my gedigte meestal my innerlike gevoelens en emosies reflekteer.

Wanneer het jy geleer dat daar krag in 'n taal is?
Ek het hierdie jaar geleer dat daar krag in 'n taal is. Ek het ook besef hoe spesiaal Afrikaans is en hoe ver jy met tale kan kom. Ek skryf veral in Afrikaans of Afrikaaps om te wys dat ons saakmaak, en dat ons ons stemme in ons eie taal kan dik maak. Daar word soms neergekyk op Afrikaans as taal en ek hoop ek en vele ander digters en skrywers kan die verkeerde persepsie oor Afrikaans wat so baie mense het, verander.

Steek jy geheime in jou poësie weg wat slegs 'n paar mense sal vind?
Nee, ten minste nie in hierdie digbundel, Die nood roep, nie. Ek is soos 'n oop boek en baie mense sal die eerlikheid in my gedigte sien.

Hoe lyk literêre sukses vir jou?
Literêre sukses vir my is om soveel boeke as moontlik te publiseer en só goed te dig dat baie mense van my werk sal hou en my boeke koop!

Ek het ook 'n droom om 'n beste verkoperskrywer en -digter te wees. Ek wil hê mense moet werklik my gedigte voel en daardeur gemotiveer word. Ek wil gesien word as ʼn puik Afrikaanse digter en skrywer en ek hoop ek kan eendag ʼn paar Engelse boeke ook laat publiseer!

Wil jy hê dat elke boek op sy eie moet staan, of probeer jy om 'n liggaam van skryfwerk op te bou met verbindings tussen elke boek?
Ek wil hê dat elk van my boeke op sy eie staan omdat elkeen 'n ander fase van my lewe toon. Elke boek sal dus uniek wees omdat my lewe uit verskillende ervaringe en fases bestaan, en elke boek sal dus oor sy eie ervaringe handel.


Kontak Logan by loganleahadams@gmail.com vir navrae en bestellings.