Ek is vrou

Ek is vrou, Alet Enslin se eerste bundel sedert haar debuutbundel Van Genesis tot Genesing in 2019, is die digter se magnum opus in terme van konsekwentheid, tematiese samestelling en vloeiendheid. Haar skryfstyl het skielik tot 'n digterlike volwassenheid ontwikkel. Fransie Davel, haar suster wat ook 'n verskyning in Ek is vrou maak, se gedigte aksentueer die talent wat in dié familie opborrel. 

Alle fasette van vrouwees word in Ek is vrou saamgevat. Deur broosheid, eerlikheid en dankbaarheid word die digter se identiteit as vrou herontdek: ek is nie jóú slaaf nie;/ek ís Cleopatra. Dit is 'n bundel wat die evasgeslag vier met gedigte soos Reën en 'n Boer se vrou, maar ook 'n bundel wat sosiale kwessies aanspreek met gedigte soos Cape Flats en Nagvlinder. Dit is 'n bundel oor liefde en hartbreek, oor wen en verloor, oor die lewe en die dood, oor vrese en oorwinnings ...


haar aarde jubel weer 
en sluk gulsig aan haar vergifnis
wat plof in die stof
  
[uit: Reën, p. 21]


Ken jy daardie vrou;
weet jy dat sy haar kinders
met haar lyf voed,
weet jy dat sy haar 
baba gister moes groet?

[uit: Nagvlinder, p. 84]


Nie net elke vrou nie, maar elke persoon wat al 'n paar grondpaaie van die lewe moes trotseer, kan 'n stukkie genesing saam met hierdie gedigte in hulle menswees koester. Beide Enslin en Davel het hulle pyn in poësie verander – poësie wat siele vir ewig sal laat voortleef.


Kreatio het met Alet en Fransie gesels oor vrouwees, innerlike genesing en die skryfproses van Ek is vrou ...


ALET


Watter ooreenkomste én verskille is daar tussen jou eerste digbundel (Van Genesis tot genesing) en jou nuwe bundel (Ek is vrou)?

Van Genesis tot genesing is geskryf in 'n tyd toe ek besef het dat seer, tragedie en pyn agterweë gelaat moet word, (daardie pakkie na die mark), indien ek myself weer wil vind.

Ek is vrou is geskryf twee jaar ná my eerste bundel. Vanaf 2019 het daar heelwat met my gebeur as vrou – borskanker, troues van die nuwe generasie, nuwe vriendinne wat nou mede-oumas is (wat tot nuwe perspektiewe oor geduld, omgee en grootmaak gelei het), waardering vir familie (met irritasies en al), die COVID-pandemie, sterftes van geliefdes en kennisse, isolasie en ekonomiese agteruitgang.


In Ek is vrou word al hierdie aspekte aangespreek met 'n oper en vryer gemoed en voel ek vir die eerste keer dat ek sosiale vergrype, dood, vreugde, hartseer, wanhoop en meer kan verwoord sonder om skuldig daaroor te voel.


Maart is ook Internasionale Vrouemaand. Wat beteken vrouwees vir jou?

Ek is nie 'n feminis nie, daarom is vrouwees nie meer of minder belangrik as om 'n man of kind te wees nie. Vrouemaand is die viering van vrouens wat deurlopend 'n verskil in ander se lewens maak.


Vir my beteken Internasionale Vrouemaand die viering van die gom wat alles bymekaar hou, elke vrou, ma, ouma, suster en dogter.


Indien 'n vrou uitstyg, is dit omdat sy hard gewerk het daarvoor en nie omdat sy 'n vrou is nie. Maar 'n vrou wat uitstyg en nog steeds haar familie bymekaar kan hou, haar kinders se prestasies kan vier en daarin deel, steeds kan bemoedig, ondersteun en 'n verandering in 'n ander se lewe maak, is die vrou waarvoor ek my hoed afhaal en vier, want sy het die ekstra myl geloop.

 

Hoe leef jy jou vrouwees uit in poësie?

Ek het in hierdie bundel probeer om vrouwees in alle fasette bymekaar te bring, met humor, met 'n traan, met realiteit en met emosie. Deurlopend sal die beeld gevind word waarin elke vrou haarself sal herken, hetsy bloedjonk of horingoud.


Daar is ook vir die teenoorgestelde geslag gedagtes om aan te peusel en dalk beter perspektief te kry oor hoe die Venus-spesie se koppe werk.


Ek is vrou is nie net vir die vrouemark geskryf nie, maar enige persoon wat al 'n grondpad in die lewe geloop het. Wat is die grootste boodskap wat jy by die leser wil tuis bring?

Ons almal leef net een lewe – benut hierdie lewe. Sien mekaar raak, vind waardering in die kleinste of grootste gebeurtenis en moenie oordeel voordat jy 'n myl in die ander se skoene gestap het nie. Gun mekaar die son, om te lag, te huil, te rou, toon begrip vir ander se omstandighede en wees 'n werklike naaste vir mekaar. Wees lief vir jou familie al hou jy soms nie van hulle nie. Die lewe is bitter kort.

 

Het daar 'n genesingsproses plaasgevind tydens die skryf van hierdie gedigte?

Baie beslis, daar het nie net genesing plaasgevind nie, maar ook groei en aanvaarding. Ek het my nie net in die woorde uitgeleef nie, maar ook in poësie se verskillende vorme. My gedigte is nie meer net 'n klompie woorde wat my versinnebeeld nie, my poësie kan nou ook universeel spreek.

 

Die feit dat my sussie Fransie Davel my ook met van haar gedigte (wat in haar hartseerste tyd geskryf is) vertrou het, is 'n wonderlike eer vir my. Die hele proses van genesing word in haar gedigte vervat, die seer is steeds daar, maar sy kan nou haarself verwoord tot beterskap en vrede. Hierdie gedigte het my laat voel dat ek uiteindelik ook bemagtig is en dat ek deur al die prosesse van menswees kan werk, want daar is engele wat op ons hoekstene geplaas is om ons te help en te beskerm. 


FRANSIE


Dit is die eerste keer dat jou gedigte in 'n bundel opgeneem is. Hoe voel jy daaroor?

Dit maak my kinderlik opgewonde, en terselfdertyd voel ek so ootmoedig. Ek het NOOIT gedink dat enige van my geskribbel op papier opgeneem sal word in 'n bundel nie.

 

Hoe lank skryf jy al gedigte en waar het jou liefde vir poësie ontstaan?

So drie/vier jaar al. Die liefde vir my taal is deur my Mama gekweek. Sy het ons van vroeg af aan alles blootgestel. Die laaste jare het my man ook poësie gelees, en dit was wonderlik dat ons dit saam kon doen.

 

Beoog jy om in die toekoms 'n debuutbundel vry te stel?

Ek sal graag wil, maar sal baie meer selfvertroue en geloof in myself moet kry.

 

Wat beteken die helende proses van poësie vir jou?

Ek het van 'n verslae, verlore en gebroke persoon 'n pad gevolg tot waar ek vandag is. Die helingsproses is nog lank nie verby nie, my verlange en hartseer is nog elke dag op my pad, maar ek kan my kop oplig en die lewe aanpak sonder om te vrees dat ek inmekaar gaan tuimel.

 

Daar is 'n brose eerlikheid in jou gedigte. Watter boodskappe kan die leser daaruit vir hom-/haarself vat?

Dat elke proses waardeur 'n mens gaan in fases gebeur, en dat jy jouself tyd moet gun om deur al jou emosies te werk. 


Bestel Ek is vrou


Bepalings en voorwaardes

  1. 'n Koerierfooi van R100 sal by elke bestelling gevoeg word.
  2. Jy sal bevestiging, die totale prys van bestelling en bankbesonderhede via e-pos ontvang sodra jou bestelling ontvang is.
  3. Bestellings word slegs versend sodra bewys van betaling ontvang is.
  4. Gebruik asseblief jou naam en van as betalingsverwysing. 
  5. Bestellings sal binne tien (10) werksdae versend word vandat betalingsbewys ontvang is.
  6. Jy sal 'n spoornommer via e-pos ontvang.
  7. Maak seker dat jy die vorm volledig en korrek voltooi. Kreatio en/of die skrywer aanvaar geen verantwoordelikheid vir foutiewe inligting wat ingevul word nie.