Kyk die wêreld weer vierkantig in die oë

Amanda is 'n gesoute skrywer en ná vele pryse kan ons doodeenvoudig net Gelapte Legkaart by die lys van uitmuntende verhale plaas. Die boek word meelewend aangebied en dit kan dan ook nie anders as om die verlies van lewe, armoede, geweld en misbruik saam met die skrywer te beleef nie.


Gelapte Legkaart is boeiend en jy vra jouself kort-kort af of dit enigsins moontlik is dat enige persoon of gesin soveel seer, moedeloosheid of mishandeling (fisies en verbaal) kan ervaar en steeds met soveel geloof en oortuiging kan getuig van 'n Hoërhand wat oor jou waak en jou uiteindelik na kalmer water stuur. 


Hoe lank het jy aan Gelapte Legkaart geskryf?

Gelapte Legkaart het in 2016 begin vorm aanneem. Klein stukkies laslaphoofstukke wat uiteindelik tot een groot lappieskombers vasgeweef is aan die begin van 2021. Die kombers is aanmekaar gelas met hartseer, geloof, hoop en uiteindelik liefde.


Watter boodskap(pe) wil jy by die leser tuis bring met hierdie publikasie?

Dat daar altyd hoop is – hoop op uitkoms! Hoop op 'n nuwe lewe. Hoop op geluk. Al neem dit dertig jaar, met geloof en hoop kan jou lewe handomkeer verander.


Wie sal met Gelapte Legkaart kan vereenselwig?

Die seerkryvroue. Daardie wegkruipsiele wat buite lag, maar binne huil. Daardie vroue wat opgestaan het en die wêreld nou vierkantig in die oë kyk. Die vroue wat agter toe deure moet veg vir voortbestaan, maar ook die wat daardie seerkrymense help om weer hulle menswaardigheid terug te kry. Eintlik moet elke vrou of tienerdogter hierdie boek lees. Die gevaartekens saam met Logan ervaar, en dalk net dalk voorkom Logan se storie dat daar iewers 'n jong vrou in dieselfde strik trap!


Deel met ons die moeilikste paragraaf wat jy vir hierdie boek geskryf het.

Die seer van 'n nuwe mamma sonder 'n baba in haar arms. Elke keer wat ek deur die twee stilgeboortes moes veg, het daar meer trane as ink op die papier bly lê. Die klein lyfies wat nooit sou popspeel nie, nooit hulle armpies om hulle mamma se nek sou vleg nie. Daardie is 'n seer wat geen ma ooit wil ervaar nie.


Jy tree ook graag as 'n geleentheidspreker op. By watter projekte is Gelapte Legkaart reeds betrek en watter geleenthede sal ideaal wees waar jy ook die verhoog kan oorneem met hierdie treffende boodskap?

Ek is betrokke by verskeie safehouse-projekte en spits my veral toe op die veiligheid van mishandelde vroue en kinders. Gelapte Legkaart was deel van 'n GBV- (Gender Based Violence) byeenkoms in Meyersdal waar verskeie sprekers teenwoordig was. Ek deel graag ook my eie lewensverhaal om sodoende meer bewustheid onder die publiek se aandag te bring. Veral tienerdogters moet attent gemaak word van die gevare om hulle. Ek sou graag meer geleenthede wou bywoon waar senior skooldogters die groter gehoor uitmaak. Ek besoek ook vroue in die safehouses, en deel my storie sodat hulle weet daar is hoop en uitkoms en iemand wat omgee.


Deel vyf interessante feite oor jouself.

  • Wanneer my neus nie in my skryfwerk is nie, sal jy my in my voëlhokke vind. (Ek boer met budgies en kokketiele.)
  • Ek is ook deel van Soldiers for Jesus-motorfietsklub en verruil naweke my rokke vir stywe langbroeke en leerbaadjies. (Die langbroeke begin nou vreeslik span as gevolg van my man se lekker kos.)
  • Ek geniet dit om saam met my seunskind Tarkov of Counterstrike op sy rekenaar te speel – altans hy speel en ek lewer kommentaar. Sy medespelers weet al wanneer ma toeskouer is, want ek raak vreeslik opgewonde wanneer die klomp op mekaar skiet.
  • Ek is die laatlam en baba van agt kinders. Ek en my oudste suster verskil 20 jaar in ouderdom.
  • My pa was 61 toe ek gebore is. Hy was die spookstorieverteller van Potch en ek kry my liefde om stories te skryf van hom. Hy was my oupa-pa en sal altyd my hero bly.

Koop Gelapte Legkaart via Kreatio se aanlyn boekwinkel.