Henco Stander in kaleidoskoop sonder kleur

10 Februarie 2021


Kreatio het op 4 Januarie 2021 van die digter Henco Stander (41) se afsterwe verneem. Hy het Kreatio en Groep 7 Drukkers se 2020-poësiekompetisie gewen. Dit is bevestig dat hy op Sondag 3 Januarie 2021 tussen ongeveer 19:00 en 20:00 in sy Londen-woonstel aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede is.


Medelye van vriende, familie en mededigters het op sosiale media en via e-pos ingestroom. "Dankie vir almal se omgee en gebede in die moeilike tyd. Wees asseblief veilig in hierdie tyd waarin ons lewe. Dit is skokkend hoe onverwags en skielik die virus ‘n geliefde se lewe kan neem. Rus in vrede daar waar jy nou saam met jou seuntjie is, Henco. Ons gaan jou baie mis," het sy broer, Craig Stander, op Facebook geskryf.


Henco se seun, Ryan (6), is op Oukersdag 2018 aan bakteriële meningitis in Londen oorlede. Volgens Craig kon Henco nooit sy seun se dood volkome verwerk nie. Henco skryf op 24 Desember 2018 op Facebook: "Jou geskenk staan nog onder die boom. Jy was so opgewonde om dit oop te maak. Ek moet bieg, ek was net so kinderlik opgewonde om jou gesig te sien. Jou eie slee. Ek wens ons kon nog so sorgvry in die sneeu baljaar. Maar nou sien ek in my geestesoog hoe jy in groener weivelde langs goue strate baljaar. Sê tog vir God, Hy moet my nie verlaat nie. Want die Here weet, ek sukkel om hierdie stukkies bymekaar te hou. Pappa is baie lief vir jou en jy sal altyd in my gedagtes voortleef."

Sy debuutbundel (waaroor hy só opgewonde was), Silhoeët, sal in 2021 verskyn en word opgedra aan Ryan. Dit is vir Kreatio 'n groot eer om aan die stuur van die publikasieproses te staan. Dié bundel sal 'n versameling van al sy gedigte bevat, asook 'n laaste paar briewe wat hy kort voor sy dood geskryf het.


"Hy was in ekstase toe ek in Augustus 2020 die buitebladontwerp van sy bundel vir hom gewys het," skets Francois Meyer (stigter van Kreatio). Alet Enslin, mede-eienaar van Kreatio, deel ook haar sentiment: "Elke gedig waaraan ons gewerk het vir sy debuutbundel het my diep geraak. Soveel emosie in eenvoud. Ongelooflike talent wat my stil laat staan."


"Henco het altyd hande van uitdeel gehad – agter die skerms, en nooit daaroor gespog nie. Hy het sy familie finansieel ondersteun en gereeld aan niewinsgewende organisasies geld geskenk. Ons vermoed dat hy, kort voor sy dood, geweet het dat hy die tydelike met die ewige gaan verwissel. Hy het in sy testament aangedui dat 50% van alle winste aan Hosanna Produksies geskenk moet word as 'n dankbetuiging aan dr. Leonie Pretorius se werk om geestelike innerlike genesing te bevorder. Dié bediening het sy lewe onherroeplik verander," verklap Craig.


'n Privaat roudiens is op 29 Januarie 2021 in Kaapstad gehou, waarna Henco se as op 'n Milnerton-strand gestrooi is. (Dieselfde plek waar sy seun se as ongeveer twee jaar gelede gestrooi is.)


"My hart ontvang altyd ‘n dankie met groot warmte en lofprysing aan Vader God. Henco was van die eerste groet af vir my net spesiaal – ek onthou sy absolute eerlikheid oor Covid-19 toe hy die eerste keer die geveg gewen het soos net hy kon. Hy het met 'n hart wat bereid was om te leer en te verander bedieningsmateriaal soos 'n honger pelgrim verorber, en vandag weet ek, Henco Stander is nie meer 'n pelgrim nie, maar 'n dankbare pappa wat sy seuntjie vashou en aansit by die hemelse feesmaaltafel van die wolk van getuienisse. Vir hom kan ek nie meer dankie sê nie, maar in herinnering sê ek: 'Dankie, Henco, wat 'n voorreg om jou te kon bedien! Sien weer!'" – Dr. Leonie Pretorius (Hosanna Produksies).


"Henco was 'n talentvolle digter wat sy hart uitgeskryf het. Sy standaard was van hoë gehalte en het my altyd diep getref. Henco, geniet die strate van goud. Jou siel rus nou." – Patricia Viljoen (mededigter en vryskutvertaler by Kreatio).


Ons eer Henco se lewe en sy talent deur sy wengedig en drie ander gedigte wat deurgedring het in Kreatio se 2020-poësiekompetisie hieronder te plaas.