Hartskos in die Bos ~ Straatwys in Parys

Hartskos in die Bos ~ Straatwys in Parys deur Ilona Petzer neem jou op 'n reis.


Eers begelei sy ons deur die natuur en leer ons meer van die boslewe. Wat 'n ongelooflike aardse belewenis en noue kontak met ons Hemelse Vader. Die wonderskoon van die natuur word net weereens vasgelê en die wonder van die skepping word deur haar wedervaringe lewendig gemaak.

 

In Straatwys in Parys word die kunstenaar aan ons bekend gestel. Hier word kuns in alle vorme aan ons voorgelê. Ons wandel deur Parys se strate en omgewing en word die ou meesters se werke tot lewe gebring deur die kunstenaar se oë en kry ons weer waardering vir kuns en kleur in outydse sowel as eietydse werke.

 

Hartskos in die Bos ~ Straatwys in Parys is voorwaar 'n kontras wat daarop aanspraak maak dat jy met jou voete in twee verskillende wêrelde kan staan met gelyke waardering vir natuur en kuns.

 

Is natuur nie maar net kuns en vice versa nie?

 

Reeds vroeg in haar lewe is stad (kuns) en bos (natuur) soos twee gewigte op 'n weegskaal vir Ilona (Wait) Petzer.


Sy is gebore in Johannesburg, maar verhuis as agtjarige saam met haar ouers na die Laeveld. Sy studeer later aan die Universiteit van Pretoria en Unisa en vlieg as lugwaardin die wêreld vol. Sy ontmoet Chris Petzer in Nelspruit, hulle beloof trou aan mekaar en vestig hulself in die Laeveld (vir die afgelope 38 jaar). Twee dinamiese seuns word uit hul huwelik gebore; later word twee pragtige skoondogters en vier oulike kleinkinders bygevoeg. Sy verlaat die onderwys in 1994 en begin haar kunsloopbaan, sy word opgelei as veldgids en verwerf haar Privaat Vlieglisensie (PPL).


Ilona het al in verskeie oorsese lande aan kunsuitstallings deelgeneem o.a. Izmir in Turkye, Florence in Italië, Mauritius, Indië en Swaziland. In teenstelling met bogenoemde is haar boservarings in lande soos Rwanda, Uganda, Botswana, Namibië, Kenia en natuurlik Suid-Afrika.


Ilona het 'n diepe eerbied vir die waarde van kuns en natuur, maar op die weegskaal met liefde vir kuns en natuur teenoor liefde vir die Here en haar familie, tiep die skaal na laasgenoemde.


Wanneer en hoe het jy jou liefde vir skryf ontdek?

In standerd 4 het ek 'n prys ontvang vir 'n opstel oor waterbesparing … miskien toe.

 

Jy is 'n baie kunstige mens. In watter kunsvorme leef jy hierdie talente uit?

Skilderkuns, drukwerk, skryf, pottebakkery, kunsjoernale en as jong meisie ballet en Spaanse danse.

 

Hartskos in die Bos ~ Straatwys in Parys is jou debuutpublikasie. Die twee wêrelde tussen bos en stad ontmoet in hierdie boek, maar ook die twee wêrelde tussen skryfkuns en ander kunsvorme. Wie is jy as mens en kunstenaar in al hierdie wêrelde?

Net myself.

 

Watter perspektiewe en oortuigings het jy met hierdie publikasie uitgedaag?

Ek onthou 'n radioprogram jare terug: Memories are made of this. Ervarings, belewenisse en mooi herinneringe weeg swaarder as materiële besittings en die gejaag na wind.

 

Wat is jou inspirasie agter die publisering van hierdie boek?

Ek het baie ure in die bos bestee as gids en dan unieke ervaringe of belewenisse neergepen om dit eendag in boekvorm saam te bind. Dieselfde met my besoeke as kunstenaar aan Parys. Sommige gebeure of beelde wat voor jou oë afspeel is net te uniek om die belewenis daarvan vir jouself te hou. Eintlik wou ek dit net in boekvorm sien, dit is en was nie my doel om 'n blitsverkoper op die rakke te sit, of as suksesvolle skrywer gesien te word nie. Dit is maar net Ilona in die bos of Ilona in Parys.

 

As jy 'n dag saam met 'n gewilde skrywer kon spandeer, wie sou jy kies?

Paulus, hy het Jesus as mens en Jesus as Here geken. Sy geskrifte ís waarheid.

 

Sien jy skryf as 'n soort geestelike of terapeutiese praktyk?

Alle vorme van kreatiwiteit is terapeuties. Dit kan geestelik raak as dit verby die siel beweeg.

 

As jy jouself in net 'n paar woorde moes beskryf, wat sou dit wees?

Kind van die Allerhoogste.

 

Wat is die grootste boodskap wat jy aan jou lesers wil oordra met Hartskos in die Bos ~ Straatwys in Parys?

In die alledaagse gejaag mis mens die stil oomblikke met God. Laat ook toe dat ervarings deur jou emosie en beelde diep binne in jou vasgelê word. So word jou geheue in stand gehou om later weer die belewenis te kan herroep. 


Hartskos in die Bos ~ Straatwys in Parys word op 30 Julie 2022 in Nelspruit vrygestel. Hou gerus Kreatio se Facebook-blad dop vir meer inligting.

Kontak Ilona by cpetzer@soft.co.za om jou voorafbestelling te plaas.