Die krag van stories

Stories is oral om ons! Dit is moeilik om in vandag se digitale samelewing 'n plek te vind waar daar nie 'n soort manifestasie van stories is nie. Buiten die voor-die-hand-liggende vorms van stories soos film, televisie, novelle, gedigte, musiek, radio en videospeletjies, word die krag van stories al hoe meer in die bemarkingsbedryf, tydens kerkdienste, as verkooptegniek, en in sosiale situasies gebruik. Die woord storie het egter in vandag se media-mal samelewing 'n negatiewe konnotasie verkry omdat mense dit assosieer met leuens; iets wat met onwaarhede aanmekaar geflans is. Dit is egter 'n baie eng siening wat iets integraal tot die aard van die mens se bestaan diskrediteer.


Reuters (2011) beskryf 'n storie as 'n fiktiewe of feitelike verslag van sekere gebeure met die doel om te vermaak, of op te voed en bewus te maak. Alhoewel daar volgens dié definisie tog 'n element van onwaarheid aan 'n storie kan wees, moet ons onthou dat stories ontstaan vanuit die mens se innerlike bestaan (gedagtes en psige), en handel oor gebeure, temas en ervarings wat werklik kan voorkom. Watter rol speel stories nou eintlik in ons samelewing? Waarom moet ons omgee oor stories? In hierdie artikel word vyf funksies, of kragte, van stories uitgelig.

 

Stories as hoeksteen van kultuur en geskiedenis

 

Stories is so oud soos die mensdom self. Histories gesproke dateer die oorsprong van stories so ver terug as die tyd van die grotman wat met rotstekeninge hulle ervarings verewig het vir hulle nageslagte om van te leer, en te geniet. Dan is daar onder andere die Ierse- en Wes-Afrikakulture wat bekend is vir tradisionele stories oorgedra deur middel van vertellings, liedjies, dreunsang en krete. Natuurlik is die Bybel en ander religieuse tekste ook vol van stories en gelykenisse om die leringe vir volgelinge meer verstaanbaar te maak. Dit is veilig om te sê dat stories 'n fundamentele deel van die mensdom se kultuur is. Gevolglik speel stories ook 'n sentrale rol in die dokumentasie van die mensdom se komplekse geskiedenis. Dink maar aan die dagboek van Anne Frank, wat 'n eerstehandse vertelling oor die ervaring van 'n Joodse meisie tydens die Tweede Wêreldoorlog is. Of hoe sou ons ons kinders belangrike lewenslesse geleer het as dit nie vir Aesop se groot versameling fabels was nie? Dit is duidelik dat stories deel is van ons DNS.

 

Stories as 'n vorm van bemagtiging

 

Wat is die maklikste manier om iemand se bestaan te ondermyn? Haal hulle uit die narratief uit, met ander woorde, ignoreer die geldigheid van hulle bestaan. Dit is wat vir dekades lank gedoen is met minderheidsgroepe soos mense van kleur, verskillende seksuele oriëntasies en gelowe. Sodoende is daar geen verwysingsraamwerk behalwe die stereotipes en stigmas wat deur die dominante narratief aangebied word nie. Dink maar net aan die apartheidsera waarin minderheidsgroepe as inferior verteenwoordig is deur die media en daarvan weerhou is om media te gebruik. Maar dit is ook deur teater en stories dat verandering teweeg gebring is toe anti-apartheidsvegters en -aktiviste bewusmakingsveldtogte in die townships in die vorm van teater en stories van stapel gestuur het. Dis toe eers dat destydse minderheidsgroepe besef het hoe hulle mislei is en oor watter krag hulle eintlik beskik om hulle lot te verander. Die krag van stories lê in die feit dat ons sulke stereotipes en stigmas kan afbreek, deur die karakters te kies, en te kies in watter lig hulle geplaas word. Deur stories kan ons ons stemme laat hoor, want woorde besit die krag tot lewe en dood. Deur stories kan ons die koers van ons lewenspad verander, deur onsself as helde te posisioneer eerder as slagoffers, en konstruktief daaroor te dink. Ons gedagtes word immers wie ons is.

 

Stories as perspektief

 

'n Narratief word gedefinieer as 'n skriftelike verslag van gekoppelde gebeure. Deur stories vertel mense dikwels verskeie weergawes van dieselfde gebeurtenis of ervaring. Die gesegde lui nie verniet elke storie het twee kante nie. Wanneer ons aan verskeie perspektiewe blootgestel word, verbreed ons begrip van 'n bepaalde onderwerp, ervaring of gebeurtenis. Wanneer ons meer begrip het vir vreemde situasies, raak ons meer oopkop en voel ons nie so maklik bedreig of beledig deur dinge en mense wat anders as ons is nie. Met ander woorde verbreed dit ook ons mensekennis en gee aan ons lewenswysheid wat ons vermoë om met mekaar te empatiseer, verhoog. So luister altyd na die ander kant van die storie voordat jy net glo wat vir jou gemaklik is om te glo. En indien daar nie 'n ander kant is nie, gaan soek dit. Perspektief is alles!

 

Stories as terapie

 

Stories kan baie universeel, tog terselfdertyd baie persoonlik wees. Dít is die skoonheid van stories; die kontraste wat daarin verberg lê. Vir elke persoon met sy of haar eie stel unieke ervarings het stories 'n ander betekenis, en het dus dramaties verskillende impakte op elke individu. Wanneer ons aktief by stories betrokke raak deur dit óf te skep, óf te gebruik, vereenselwig ons met die karakters of situasies en forseer dit ons om die diepste dele van ons menswees, ervarings en emosies te konfronteer, te erken, te verwerk en te aanvaar. Dit is geen wonder dat die drie groot storiemediums, naamlik teater, televisie en film, so verslawend is nie. Mense is op soek na vermaak, en stap uit en voel terselfdertyd beter oor hulleself en hulle lewens. Waarom anders die groot sukses van motiveringsprekers en -potgooie? Wanneer mense hulle stories deel, is daar altyd iemand wat met aspekte daarvan kan identifiseer, wat erkenning van bestaan asook die waardigheid van daardie ervarings en die vermoë om dit te verwerk, bevestig. Op hierdie manier funksioneer stories as terapeutiese ervarings waardeur ons van binne kan genees.

 

Stories as sosialiseringsmetode

 

In die vorige punt het ons gesê dat stories universeel is. Dit getuig van ons gedeelde ervarings as mense en bring ons bymekaar. Verder maak stories 'n sentrale deel uit van ons kommunikasie en hoe ons mekaar beoordeel en na waarde skat. Studies in die sosiale wetenskappe toon dat mense wat beskou word as beter storievertellers beter gesprekvoerders is wat mense se persepsie oor hulle selfvertroue en charisma verhoog en hulle meer aantreklik maak vir ander. Die krag van stories as sosialiseringsmetode lê in die potensiaal om mekaar te vermaak en te laat lag. Net soos wat ons na films of teater gaan, of boeke lees, musiek luister of videospeletjies speel, bied stories in 'n sosiale konteks ons die geleentheid om vir 'n oomblik te vergeet van ons stresvolle lewens en te ontsnap van ons verantwoordelikhede. Stories laat ons ontspan en bring ons weer in balans.

 

***

 

Daar het julle dit – vyf (van die) kragte van stories. Indien julle mooi opgelet het, sou julle agterkom het dat alhoewel daar vyf verskillende punte is, almal soort van inmekaarvleg en netjies op mekaar volg. Hulle is ver genoeg verwyderd om as verskillend geklassifiseer te word, maar naby genoeg om onder dieselfde vaandel beskou te word. Wat al die bogenoemde punte wel in gemeen het, is die feit dat almal fundamentele funksies van die mens se psige is, wat ons daagliks gebruik in verskeie aspekte van ons lewens om sin te maak van ons wêreld, en bestaan. Stories is so ingeprent in ons bestaan, dis geen wonder dat boeke, teater en flieks al tot vervelens toe as metafoor vir die mens se lewe gebruik is nie. En met reg, want wat is die mens anders as 'n versameling stories saam met verskillende karakters in verskillende plekke?