Ds. André Samson: 'n Nuwe Begin

Ds. André Samson is gebore en getoë in Komaggas te Namakwaland. Hy is die jongste van ses seuns; deur 'n enkelouer (moeder) grootgemaak. 


André het reeds twee publikasies op sy kerfstok, synde Oordenkings uit Genesis en 'n Terugblik na die 2010 Sokkerwêreldbekertoernooi uit 'n Bybelse perspektief. André se nuutste skepping 'n Nuwe Begin staan beslis nie terug nie en is 'n aanwins vir enige boekrak.


Die vraag of daar werklik 'n nuwe begin (of dan 'n tweede kans) is, het al deur ons almal se koppe gemaal. Is daar 'n nuwe begin? Is daar hoop wanneer ons so diep in wanhoop vasgevang is? 'n Nuwe Begin gee perspektief en ook die antwoord hierop. Ware verhale van hoop en geloof word vertel. Die vaste vertroue dat ons almal 'n nuwe begin gegun word, is soos 'n goue draad dwarsdeur die boek geweef; ja, daar is altyd 'n kans om nuut te begin. 


Hoe ontwikkel jou skryfwerk? 
Gewoonlik kom lê die Gees 'n gedagte in my hart. Ek maak dan kriptiese notas. Wanneer ek dan die gedagte het oor die boodskap wat ek wil lewer, begin ek met navorsing. 

Hoe hanteer jy die balans tussen jou daaglikse verantwoordelikhede en jou skryfwerk?
Gewoonlik skryf ek vroegoggend en het dit nie so 'n groot invloed op my daaglikse bedrywighede nie.

Wie is jou gunstelingskrywers?
Max Lucado

Waar kom jou idees vir jou skryfwerk vandaan? Doen jy baie navorsing oor skryfkuns?
Dit word deur die Heilige Gees geïnspireer. Wanneer die Gees my bewus maak van iets wat ek moet neerpen, maak ek gewoonlik notas en dan doen ek navorsing voordat ek begin skryf. 

Wanneer het jy geleer dat daar krag in 'n taal is?
Alreeds op 'n jong ouderdom in die laerskool. Lees was my gunstelingdeel van die skooldag.

Hoe lyk literêre sukses vir jou?
Wanneer mense in resensies erkenning gee aan hoe jou skryfwerk hulle bemoedig het. 

Deel vyf interessante feite oor jouself.

  • Ek is lief vir die buitelewe.
  • Eintlik is ek 'n baie skaam persoon, maar weens die aard van my bediening moet ek op 'n daaglikse basis met mense kommunikeer. 
  • Ek het 'n kleintjie dood aan mense met verskuilde agendas.
  • Ek help graag mense wat hulleself wil help.
  • Ek het 'n baie groot liefde vir senior burgers. 


'n Nuwe Begin kan direk by André bestel word teen R160 (versending uitgesluit) by samson.andre6@gmail.com of via Kreatio se aanlyn boekwinkel.