In 'n neutedop: Spore van Genade

Kreatio gesels met Alta van Zyl (skrywer en stigter van die bediening, Hope Anointed Ministries) oor die publikasie Spore van Genade — 'n projek van Hope Anointed Ministries ten bate van mense wat deur verskeie sosio-ekonomiese kwessies geraak word. 


Wie is Alta?

Alta van Zyl is in Klerksdorp, Suid-Afrika gebore en het in Randlespark grootgeword. Op die ouderdom van sestien raak sy swanger met haar dogter. Alta is later getroud, en het ook ‘n stiefseun ryker geword. Vandag is sy die trotse ouma van drie kleinkinders. In 2016 is sy geskei. 

Sy is 'n regte warrior woman. Om te bly hoop, al is daar niks om voor te hoop nie, is haar leefwyse. Haar eerlikheid en sagtheid is welbekend onder haar hartsmense. Sy is altyd gereed met 'n vriendelike groet en opbouende woord. Sy tree op soos sy is. 

Ná 'n moeilike lewe het sy op die ouderdom van 31 haar lewensverhaal begin skryf. Ander publikasies is ook uit haar pen gebore. Haar uithouvermoë maak haar 'n ster wat helder skyn. Sy is betrokke in haar bediening. Haar bediening was vir ‘n tyd lank gesluit, maar is nou weer oop. Of sy nou 'n boek skryf of nie, is sy altyd besig met die bediening en die bemarking van haar boeke. 

Hoe omskryf Alta sukses, persoonlike groei en geluk?

Dit wat elke mens in sy/haar lewe bereik het, beskou Alta as sukses. Die een is nie meer belangrik as die ander nie. Wanneer jy doelwitte gestel het en dit bereik het, was jy suksesvol. 

Alta glo in groei, dat 'n mens kennis moet opbou in verskeie areas, en dat 'n mens nooit genoeg intellektueel en emosioneel kan groei nie. Sy sal elke dag leersaam wil bly, want mens is nooit te oud om te leer nie. Emosionele volwassenheid is iets wat plaasvind tydens die verandering van gedagtes; daarom is sy nie bang vir veranderinge in haarself en haar denkwyses nie.  

Die swaarkry (geestelik, emosioneel en liggaamlik) van die mens lê haar na aan die hart. As sy 'n verskil kan maak, is dit 'n groot bonus, dan floreer sy en is sy in haar element. Die boemelaar op die straat wat steeds lewe en glimlag wanneer daar 'n geldjie in sy hand gestop word, inspireer hierdie vrou. Dit laat Alta besef hoeveel sy het om voor dankbaar te wees en inspireer haar tot 'n groter omgeehart wat oorloop van liefde sonder enige veroordeling, want niemand van ons stap in die boemelaar se skoene nie. 

Om jouself te vind en lief te hê is vir Alta van Zyl die definisie van ware geluk. Die sleutel tot geluk vind mens net in jouself. Jy kan niemand gelukkig maak en ook self gelukkig wees, alvorens jy nie ware geluk binne jouself ontdek het, ken en leef nie.  

Alta se lewensdroom

Hierdie vrou se lewensdroom is meerledig. Dit sluit in om meer soos haar Skepper te word en in Sy wil te wandel. Sy is gevestig in haar bediening. Sy beoog om nog boeke, CD's en DVD's vry te stel … Wie weet wat nog? Alta droom altyd groot! Haar advies aan jong aspirante skrywers is om jou boeke self te probeer publiseer. Glo in jouself. Al neem dit jou jare. Hou aan glo in jou boek en skryfvermoëns. Die eerste paragraaf is reeds die sleutel tot sukses. Sy het 'n spesiale boodskap aan al die dames daarbuite: ''Dra jou kroon, want jy is vrou!''

Wat is Hope Anointed Ministries se hoofdoel?

Hope Anointed Ministries voorsien aan en help die behoeftiges, verslaafdes, die wat mishandel word en enige trauma deurgaan, bejaardes en kinders. HOOP word gegee waar daar WANHOOP heers.

Die bediening is deur Alta gestig en bestaan al meer as tien jaar. Baie mense met erge verslawing asook behoeftige mense is al gehelp en bygestaan. Die visie en missie van die bediening is om mense weer hul trots terug te gee! Hope Anointed Ministries deel nie net met 'n vrye hand uit nie; mense word gehelp om hul waardigheid terug te kry en weer in die samelewing, waaruit hulle onttrek het, in te pas. Wanneer hulle genesing en vrymaking gevind het, kan hulle ook 'n verskil gaan maak. Daar is niks mooier as die mense se dowwe oë weer soos diamante skitter nie!

Wie befonds Hope Anointed Ministries?

Alle fondse kom uit Alta se eie finansies of soms wanneer iemand 'n donasie lewer (sonder dat Hope Anointed Ministries vra). Verder kom fondse uit boekverkope of wanneer iemand in Alta se lewe saai en gee. In ons eie dorp is daar ongelooflike groot behoeftes, soveel so dat mens nie by almal kan uitkom of kan help nie. Daarom doen sy 'n beroep op elkeen om twee keer te kyk na die persoon op straat en te help as jy kan, want 90% van hulle is daar as gevolg van omstandighede buite hulle beheer. 

Spore van Genade

Spore van Genade is 'n samestelling van verhale en poësie met getuienisse vir liefdadigheid, en opgedra aan Rudolph Frank Victor wat 'n dwelmverslaafde en boemelaar was en voor sy afsterwe kon terugkeer na sy Skepper en Verlosser en in koninklikheid ter ruste gelê kon word. Die projek se doel is om fondse vir Hope Anointed Ministries en ander bedienings te genereer om sodoende mense in nood te help. Dié wat in verslawing, diepe trauma en seer van mishandeling, molestering en verkragting vasgevang is. Die prinses van die nag. Die boemelaar op die sypaadjie. Ons weeskinders en vergete bejaardes. Armoede, depressie en selfmoord. Om aan hulle vrymaking, genesing en oorwinning te bring, want deur God is alle dinge moontlik. 

Wanneer het die projek afgeskop en hoe het die konsep vorm begin aanneem? 

Die projek van Spore van Genade het in Junie 2019 afgeskop. Alta het die oggend wakker geword met die idee om 'n boek vir liefdadigheid saam te stel wat sy glo uit Abba se hart kom. Sy het verskeie digters en skrywers via Facebook vir hierdie projek genader. Sy het aan die werk gespring en later het Lynelle Clark (suksesvolle skrywer), die projekbestuurder geword. Alles rondom die projek het net in plek geval totdat die boek as eindproduk in haar hande met 'n dankbare hart vasgehou kon word, en steeds kan sy met blydskap sien dat Vader 'n doel met die boek het.

Watter impak sal hierdie boek op die leser hê? 

Spore van Genade is vol trane, maar ook baie humor. Die boek sal enige persoon twee of selfs drie keer laat dink oor die lewe en die omstandighede van die verworpene. Die inhoud sal aan elkeen 'n dieper kykie gee omdat dit jou agter die gordyne en die hart van die mense sal neem. Die boek raak enige mens se hart en siel en sal jou ook inspireer om 'n verskil vir ander te wil maak. In die lewe kort ons almal net 'n helpende hand wat met agape-liefde uitreik. Die boek sal dus verseker 'n groot impak van dankbaarheid, geloof, oorlewing en oorwinning op enige mens hê, en die vegtersbloed in jou are laat borrel en bruis om nooit op te gee nie, en altyd net te besef en te weet dat 'n aanhouer wen. As 'n ashoopkind uit die as kan opstaan en 'n Koningskind word, hoeveel te meer nie ons wie se probleme en storms in ons lewens nie eers naastenby so groot is nie? God is altyd daar; ons moet net Sy kleed vasgryp! 

Hoeveel skrywers vorm deel van die publikasie en na watter verskeie vorms van skryfkuns kan die leser uitsien? 

Daar is 46 woordkunstenaars (digters en skrywers) van Suid-Afrika en Namibië wat deel van hierdie publikasie vorm. Lewensomstandighede van behoeftige mense, hetsy 'n boemelaar, bejaarde, verwaarloosde kind of mishandelde vrou is deur hulle met hart en siel op papier vasgelê deur sketse, digkuns, verhale en getuienisse. Illustrasies deur Elmarie van Zyl verskyn ook in Spore van Genade.

Alta deel eksklusiewe uittreksels uit Spore van Genade met Kreatio

''Wanneer dit jou die eerste keer gevind het, dink jy jy kan net die deur toemaak en hy sal verdwyn. Maar, hy bly opdaag, elke keer wanneer jy op jou swakste is. Voos geslaan en moeg geworstel, dan staan hy by die deur. My knieë; my enigste behoud. Om sodoende die skaduwees van gister altyd in die verlede te los. Daar waar ek weer duidelik kan sien en die skadu's van gister vir altyd hul houvas op my verloor.''  (Uit Skadu's van Gister deur Lynelle Clark)

''They thought they knew her well 
She thought they'd have her back 
If only someone was there 
To save her when she lost the track'' 

(Uit If only deur NJS)

Direkte bestellings

Alta van Zyl
Suid-Afrika (WhatsApp): 083 294 0171
Namibië: +264 81 611 1419

Danielle Lotter (Namibia): +264 81 453 9192

Lynelle Clark (Suid-Afrika): +27 72 188 9124

Beskikbaar by hierdie boekwinkels
(in Suid-Afrika, Namibië en Botswana)

• Exclusive Books
• CNA
• Bargain Books
• Protea  

Aanlyn

Klik hier om Spore van Genade op Amazon te koop.

Verwante skakels

Lees meer op Goodreads

Besoek Spore van Genade se Facebook-blad