Uit hierdie Valkenburg: Ernest Loth verwoord die onnoembare

Uit hierdie Valkenburg
deur Ernest Loth

Genre: Poësie
Bestellings: ernestloth93@gmail.com

Hierdie gedigte is geskryf tydens lockdown gedurende die Corona-plaag (tussen 27 Maart en 30 April 2020) toe die digter saam met die hele Suid-Afrika en die res van die wêreld afgesonder is. 'n Tydstip vir refleksie en introspeksie. Dit is in dié tyd dat die digter se herinneringe teruggegaan het na die tyd saam met sy skisofreniese moeder. Die gedigte reflekteer sy emosies en interaksie met sy ma en die hel wat hy alleen beleef het met iemand wat in die situasie vasgevang is. Hy moes as't ware terugstap op die spore wat hy reeds toegemaak het, maar het in die proses heling gevind terwyl dit 'n uitmergelende reis van innerlike konflik was. 'n Realiteit wat hy vir die wêreld wou wegsteek, maar ironies in die lockdown kom uitbreek, wegbreek uit die verskanste wêreld.

Die gedigte kan heringedeel word sodat dit 'n soort chronologiese volgorde kan hê vanaf sy meelewing as baba, kleuter, tiener en as volwassene en dalk ook in 'n mate die progressie aantoon van sy ma se geestelike en selfs fisiese metamorfose. Die laaste, maar beslis nie cliché-sistiese minste nie, is dit 'n huldeblyk aan sy ma se ma, sy ouma saam met wie hy die stryd beleef en oorleef het!

Kreatio gee ons lesers 'n dieper kykie in Ernest se lewe en sy skryfproses ...

Hoe ontwikkel jou gedigte? (Lei ons deur die fases van jou skryfproses.)

Ietwat moeilike vraag om te beantwoord. Gedigte is vir my 'n emosionele reis na binne, en dit hang af hoe sterk jy as digter voel in jou siel oor die kwessies wat jy wil aanraak. Ons samelewing wemel met verskeie dinge wat jy as digter/skrywer visueel beleef en ervaar en wat jou soms dieper laat dink. 

Ek sal byvoorbeeld notas maak of 'n woord of twee, selfs 'n sin neerskryf wat die vonk in my sal brandsteek. Veral saans wanneer die meeste mense in droomland is, sal ek opstaan en my laat lei deur die muse wat my dwing om ontslae te raak van die woeling in my kop. 

Dan word dit 'n stryd met woorde en emosies en beelde ... wat in die vorm van 'n gedig ontstaan. Baiekeer is dit nie die finale produk nie, en moet jy twee tot drie keer skaaf aan die konkoksie: woorde wat nie reg op die oor val nie, versreëls wat nie sin maak nie of simboliek wat buitensporig is wat ten slotte die tipografie van die skepping beïnvloed. Teen die einde weet jy: moenie verder karring aan die gedig nie.

Hoe hanteer jy die balans tussen jou daaglikse verantwoordelikhede en jou skryfwerk?

Jy moet jouself dissiplineer en tyd maak vir die skryfproses. Tog het ek persoonlik ondervind dat die drang om gedigte te skryf, enige oomblik van die dag of nag jou kan beetpak! So het ek gevind dat ek my beste skryf as die res van die wêreld slaap en ek alleen wakker is. Behalwe vir my daaglikse roetine van slaap-opstaan-eet-werk-oefening ens., is my skryfwerk vir my 'n heilige oomblik waar ek kan afskakel van die dinge rondom my en my laat verswelg in 'n kortverhaal of gedig of rubriek.

Wie is jou gunstelingdigters?

Antjie Krog, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Adam Small, Ronelda Kamfer, Pirow Bekker, NP van Wyk Louw, SV Petersen, Matthews Phosa, Petra van Blerk, Fanie Oliver, Sheila Cussons, George A Hill, Peter Snyders en Elisabeth Eybers.

Waar kom jou idees vir jou gedigte vandaan? Doen jy baie navorsing oor poësie?

Ek lees nogal baie digbundels vir inspirasie, maar nooit om dieselfde style na te aap nie. So het ek ook ontdek dat sommige digters te abstrak skryf soveel so dat mens nie hul gedigte geniet nie. Dat sommige gedigte te intellektueel probeer klink om dalk waarskynlik in 'n taalkundige se tesis gebruik te word as verwysing. 

As mens eerlik skryf oor dinge wat jy persoonlik ondervind het, sonder fieterjasies, of jou eie menings oor netelige kwessies in ons samelewing deur middel van gedigte weergee, behoort dit byval te vind by jou lesers. 

Soms hoef dit nie die leser se goedkeuring weg te dra nie (soos in sommige gedigte van Ronelda of haar man, Nathan), maar solank die boodskap ferm dog soms op 'n ''wind-uitslaan-manier'' gedoen word! 

Myns insiens moet poësie gestroop wees van enige opgesmuktheid en oortollige beeldspraak en simboliek wat lesers onnodige breinskade laat opdoen!

As jy vir 'n jonger/voornemende digter iets kan vertel, wat sal dit wees?

As mens goed wil skryf moet jy wyd lees, en saam met so 'n bietjie skryftalent, mag jy op die regte pad wees om met woorde te speel.  

Jy moet ook 'n goeie waarnemer wees en jou oor op die grond hou sodat jy ook die doodgewone mense se skoene kan aantrek om die wêreld uit hulle ruimte te verken; dan word jy die stem van die stemloses. 

Soos Peter Snyders dit in sy Ek is oek important so pragtig regkry: om die straatveër te laat praat en om ons te laat verstaan dat dié mense ook 'n belangrike rol in ons samelewing speel wat ons meestal miskyk. 

Ten slotte moet jy as jong digter met al jou sintuie leef en skryf, want dit sal in jou skryfwerk wys! Soos mens ouer word, versterk die sintuie en toon jou werke (gedigte) 'n soort rypwording wat ook die diepte van jou emosies sal reflekteer, en jou op die een of ander wyse 'n band met jou lesers laat smee.

Wanneer het jy geleer dat daar krag in 'n taal is?

Behalwe dat ek 'n dinamiese Afrikaanse opvoeder, mnr. Joseph, gehad het wat woorde vir my in die klas laat leef het, en my opstelle in die klas voorgelees het, het ek as matrikulant dikwels in polemieke in koerante betrokke geraak; veral in die Apartheidsjare! 

Heel dikwels was my briewe ook telkens aangewys as die beste brief van die week omdat ek verlief was (en steeds is) op woorde en myself aan 'n wyer samelewing kon uitbasuin.

En natuurlik op kampus op UWK waar ek dosente gehad het soos Tony Links, Jakes Gerwel, Hein Willemse en andere! My hoofvakke Afrikaans-Nederlands en Engels behoort alles te sê! 

Die krag van 'n taal is uiters dinamies op die verhoog. Die dialoog wat jy in die mond van die akteurs plaas, is so kragtig dat jy gehore se wind kan uitslaan met 'n teks waarin jy hulle verwronge beelde na hulself reflekteer!

Steek jy geheime in jou poësie weg wat slegs 'n paar mense sal vind?

Dis seker 'n tong-in-die-kies-vraag ... Want ekself sal nie weet of ek dalk geheime in my poësie verberg wat slegs deur 'n paar mense gevind sal word nie. Dalk sal bekendes met wie ek vriende is of my deur middel van my tydskrifrubrieke of verhoogdramas ken, iets soek wat dalk misleidend kan wees, maar tog in 'n mate na 'n ontdekte ''geheim'' mag klink. 
In my debuutbundel Uit hierdie Valkenburg laat ek toe dat mense in my siel kyk, maar ek wou hê hulle moes saam met my die pad stap deur die gedigte om begrip te toon waardeur persone gaan wat na mense wat geestelik versteurd is, omsien.  

Die ''geheim'' wat ek graag wil hê almal wat die bundel lees moet ontdek, is dat ons meer empatie moet hê met mense met mental disabilities en hoewel ons graag almal wat nie ''normaal'' is nie wil wegsluit in koue vaal geboue, onsself steeds in die makroskopiese Valkenburg vasgevang is met ''normale'' persone wat ''abnormale'' dinge doen! En hier is ons vandag vasgevang in 'n ''Valkenburg'' (die lockdown) waaruit ons almal wil wegkom omdat die ''abnormale'' ons ''normale'' geword het!

Hoe lyk literêre sukses vir jou?

Goeie vraag! Literêre sukses het ek al in sarsies geproe. Eers met die debuut van my eerste drama in 1991 met behulp van George Weideman en Abe van Niekerk en die feit dat dieselfde drama jare daarna in verskeie Afrikaanse Huistaaltekste gebruik is deur Riens Vosloo en Lucas Malan in Bladsak vir seniors. Dit is ook in 2015 voorgeskryf vir UNISA se eerstejaarstudente in Afrikaans, en dit was vir my 'n soet smakie van die trefkrag van die geskrewe woord. Ek was nogal in die wolke in 2018 toe ek die Neville Alexander Prestige Toekenning (plus R10 000 prysgeld) ontvang het vir my bydrae tot Afrikaans. Die bevredigendste is egter om lesers te bereik wat ek andersins nie sou kon bereik nie, en die boodskap van die voiceless uit te basuin. Geen literêre toekennings is my dryfkrag om te produseer nie. Die toekennings is 'n bysaak wat ook nooit na my kop toe sal gaan nie. My brein het nie nog plek vir materiële toekennings nie, daar is net plek vir woorde en my kreatiwiteit ... 

Wil jy hê dat elke boek op sy eie moet staan, of probeer jy om 'n liggaam van skryfwerk op te bou met verbindings tussen elke boek?

Moeilike vraag. Elke boek of bundel moet myns insiens op sy eie funksioneer. Daar mag tussen digbundels moontlik 'n onsigbare lyn loop waaroor die digter sterk voel, maar dit hoef nie noodwendig so te wees nie. Met my dramas voor 1994 het die protesstem altyd weergalm teen ongelykheid en rassisme en stereotipering, soos byvoorbeeld: Eendag is daar ('n sprokie vir grootmense); Vandag is daar ('n sprokie vir die wat dink hulle is groot) en Gister was daar (vir die wat weet hulle is groot), Pad na vergifnis, Rowwe Sketse, Donkerland, Konsternasie van 'n reënboognasie, ens., hier was 'n verbinding. Maar Die Gas, Die Anderkant, Koning Lear, Die Post mortem en Die Protes fokus weer op verskeie kwessies.

My tweede digbundel waarmee ek besig is, sal (hopelik) geen korrelasie hê met die eerste een nie. Indien ek 'n roman sou aandurf, sal dit op sy eie kan staan en tog 'n variasie van social issues aanraak sonder werklike oplossings vir sommige kwessies.

Resensie: Uit hierdie Valkenburg
Resensent: Alet Enslin (Kreatio)

Ernest Loth se eerste digbundel Uit hierdie Valkenburg sien uiteindelik die lig. Hy het in 1991 gedebuteer met 'n drama Eendag is Daar, hierdie drama sowel as Donkerland is opgeneem in 'n skoolhandleiding vir Afrikaans. Ernest Loth is 'n drama-onderwyser, skrywer en digter.

Uit hierdie Valkenburg verwoord die unieke ervaring van die onnoembare, synde geestesgesondheid, met deernis. Die leser word die kans gegee om 'n kykie in Ernest lewe te kry, tog is dit alomteenwoordig en word die stemloses hier die kans gegun om hulle stemme hoorbaar te maak.

ek het jou weggesteek
maar jy het vlak in my oë gesit
as iemand net nader kon sien –  
die refleksie van jou omgekeerde
beeld –
ek     
is
so
jammer Mamma dat jy nie vir my kon wees
wat jy sou wou wees nie

(Uit Oppervlak)

Daar word met uiterste deernis en sensitiwiteit omgegaan met die emosionele in hierdie apostrofiese gedigte. Die gemaklike praatstyl waarin hierdie bundel geskryf is, maak dit universeel en ons wat nooit openlik oor geestesgesondheid wil praat nie, kan ons vereenselwig met die diep emosies van 'n kind, 'n tiener en uiteindelik 'n volwassene.

ek het
omgekyk
waar jy rustig kruisbeen sit en rook
en nikssiende by die venster uitkyk;      
ek het gerus gevoel gedwee
want jy was by my
onwetend dat die lewe spoedig skaakmat sou skree

(Uit Varkie verlore)

Deur die subtiele aanwending van stylfigure en woordkeuses kom hierdie bundel tot lewe en kan die liefde van 'n kind vir sy moeder (hier waar sy dit nie meer kan raaksien, ervaar of waardeer nie) deurlopend gesien word, en die pyn wat dit nou meebring in sy volwasse lewe (om hierdie bundel tot geboorte te bring) duidelik ervaar word.

hulle besef nie
ek het jou lank reeds verloor
en die dood was nie 'n skok nie
soos hul skeermesstellings
wat my binne
in repe gekerf het

(Uit Onbesonge)

Hierdie is beslis 'n moet-lees- en 'n weer-leesbundel. Dit spreek sonder om ooremosioneel te raak die waardering en ontgoding van lief en leed aan, en dien as 'n getuienis dat die lewe ons soms meedoënloos dwing om maskers te dra.