Poësiekompetisie: Wenners

Kreatio se eerste tweetalige poësiekompetisie in samewerking met die hoofborg, Groep 7 Drukkers (Pty) Ltd, is vanaf 13 Januarie tot 17 April 2020 aangebied. Deelnemers kon in drie kategorieë inskryf: Seisoene, Tydreise en Liefde in enige vorm. Kreatio het 423 inskrywings ontvang waarvan 130 gedigte in die bloemlesing Kreatio in motu opgeneem word (beskikbaar vanaf 3 Julie 2020). 

Inskrywings van Suid-Afrikaners regoor die wêreld is ontvang – Suid-Afrika, Engeland, Ierland, Australië, Kanada en Miami. Die grootste gedeelte van die inskrywings was in Afrikaans (74%) en digters tussen die ouderdomme van 13 en 79 se werk is ontvang. 

Die Top 20-kortlys is op 4 Mei 2020 bekendgemaak, en op 5 Junie 2020 maak ons met groot trots en opgewondenheid die wenners van hierdie kompetisie bekend. Ná twee ekstra anonieme beoordelingsrondtes het die paneel en organiseerders besluit om ruimte vir gesamentlike plekke in die Top 3 te skep. Vyf groot pryse word weggegee, en die totale waarde van die 2020-poësiekompetisie se pryse is R15 000.

Die wenners is soos volg:

Eerste plek: 
Winter in Londen deur Henco Stander (publikasieprys ter waarde van R6 000)
Tweede plek:
Aborte vendicta deur Amanda de Meillon (Kreatio-geskenkbewys ter waarde van R3 000)
Dimensie deur Eduard Smith (Kreatio-geskenkbewys ter waarde van R3 000)
Derde plek:
Dit was aand deur Anzé Bezuidenhout (Kreatio-geskenkbewys ter waarde van R1 500)
Die man wat my liefhet deur Carma Shaw (Kreatio-geskenkbewys ter waarde van R1 500)

Baie geluk aan elke digter wat in hierdie kompetisie presteer het! Die pryse is geldig tot 
5 Desember 2020 en kan vir enige Kreatio-dienste gebruik word.

Leef jou skryfkuns.