Komieklike Kortverhale: Wenners bekendgemaak!

Kreatio se Komieklike Kortverhale-skryfkompetisie is op 6 Oktober 2020 aangekondig en het op 31 Maart 2021 gesluit. Die doel van die kompetisie is om skrywers die geleentheid te gee om hul skryftalent te demonstreer en 'n publikasiegeleentheid daarvoor te verower; om individue te identifiseer wat komiese denke en skryfvaardighede het.

As kinders het ons honderde kere per dag gelag, maar as volwassenes is die lewe ernstiger en lag ons aansienlik minder. Deur humor en lag in meer geleenthede te soek, kan jy jou emosionele gesondheid verbeter, jou verhoudings versterk en selfs jare by jou lewe voeg.


Ons beoog om deur hierdie projek nie net spesiale geleenthede vir skrywers moontlik te maak nie, maar deur die kortverhaalbundel Komieklike Kortverhale elke leser daaraan te herinner dat lag die beste medisyne is! Ons leef in tye van onsekerheid, spanning en hartseer. Deur te lag, ontspan jou hele lyf, versterk jou immuunstelsel, word endorfiene vrygestel, dra dit by tot beskerming van jou hart, en kan selfs jou liggaam help om 'n paar kalorieë te verbrand!


Aanvanklik sou slegs die vyftien beste kortverhale in Komieklike Kortverhale opgeneem word, maar weens soveel uitstaande inskrywings word daar 25 kortverhale in dié kortverhaalbundel opgeneem. Kortverhale deur Amanda de Meillon, Carlien Grobler, Christo Visser, De Villiers van Niekerk, Dominique Fischedick, Elize Perrin, Elizma Jordaan, Elmi Smith, Hanlie de Wet, Helena Mellet, Hennie du Toit, Herman Berry, Johan Kotze, Karin du Toit, Lynette Strydom, Madeleine Venter, René van Zyl, Riaan Palmer, Susanne Pike, Tanya de Villiers, Thelma Labuschagne, Thérèse Fensham en Velma Barnard verskyn in hierdie publikasie wat beloof om die lagspiere van elke leser behoorlik te prikkel.

Kreatio bedank Groep 7 Drukkers en Ink Skryf in Afrikaans as medeborge van hierdie projek. Dit is altyd 'n voorreg om hande met ander instansies te neem en skrywers nader aan hulle drome te bring.


Elf kortverhale het die toptien gehaal (weens 'n gesamentlike plek).


Spesiale vermelding in alfabetiese volgorde:

  • Amanda de Meillon (Oupa en die cannabis)
  • Carlien Grobler (Dagboek van ‘n hister-sister)
  • De Villiers van Niekerk (Ouma Ans se begrafnis)
  • Elizma Jordaan (Die tannie met die Crocs)
  • Elmi Smith (Oom Willie-Willie)
  • Karin du Toit (Die kort mannetjies)
  • René van Zyl (Koeksisterkoning)
  • Susanne Pike (Daai blêrrie berries)
  • Tanya de Villiers (Die onverwagse gas)
  • Thérèse Fensham (Getoor)
  • Velma Barnard (Die doring in my onvanpaste vlees)

Ons kondig met groot opwinding en trots die wenners van die Komieklike Kortverhale-skryfkompetisie aan. Die topvyf wen groot pryse geborg deur Kreatio, Groep 7 Drukkers en Ink Skryf in Afrikaans.


Eersteplekwenner:
Thérèse Fensham (Getoor)


Tweedeplekwenner:
Susanne Pike (Daai blêrrie berries)


Derdeplekwenners (gesamentlik):
Carlien Grobler (Dagboek van ‘n hister-sister)
De Villiers van Niekerk (Ouma Ans se begrafnis)


Vierdeplekwenner:
Amanda de Meillon (Oupa en die cannabis)


Vyfdeplekwenner:
Elizma Jordaan (Die tannie met die Crocs)


Baie geluk met hierdie uitmuntende prestasies! Wenners sal binne die volgende vyf werksdae 'n e-pos met meer inligting en digitale geskenkbewyse ontvang.


Die kortverhaalbundel Komieklike Kortverhale sal in die eerste week van Julie 2021 vrygestel word. Voorafbestellings is amptelik oop. 


Klik hier om jou voorafbestelling te plaas.